Vloede ruk skole, vervoer tot stilstand

(Oorstromings in KwaZulu-Natal. Foto: Cogta/KZN)

Verwoestende oorstromings en aanhoudende reën in KwaZulu-Natal is nie net rampspoedig vir inwoners van dié provinsie nie, maar hou ook verreikende gevolge vir onder meer die onderwysstelsel en vervoerbedryf in.

Die provinsiale onderwysdepartement het Woensdag aangekondig dat alle skole wat deur die vloede geraak word tydelik gesluit sal wees. Owerhede het ook versoek dat alle padvragte wat na die Durban-hawe vervoer word, tydelik gestaak word totdat die situasie verbeter. Dit kan uiteraard tot vertragings in aflewerings lei.

Maroela Media het vroeër berig dat grootskaalse oorstromings reeds talle lewens geëis en erge skade aan infrastruktuur en eiendom aangerig het. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het boonop voorspel dat swaar reën oor Paasnaweek sal voortduur.

Gerugte oor die plundering van vragmotors en vraghouers in die vloedgeteisterde gebiede lei nou tot verdere kommer.

Gevaarlik om skool toe te gaan

“Die sterk vloede het ʼn reuse-ontwrigting veroorsaak en het ʼn negatiewe uitwerking op skole en onderrig. Boonop hou dit steeds ʼn bedreiging vir die lewens van leerders en onderwysers in,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

“Die terrein en watervlak maak dit uiters moeilik vir leerders en onderwysers om skole te bereik. In sommige gebiede is dit boonop uiters gevaarlik om by skole te probeer uitkom en word mense gedwing om hoë watervlakke oor te steek. Ons het in die lig hiervan besluit om skole voorlopig tot 19 April te sluit terwyl ons die situasie dophou.”

Die departement sê hy ontwikkel tans gebeurlikheidsplanne om die uitwerking van die vloede te versag en korttermynmaatreëls in te stel.

Dele in KZN het Dinsdag tot 300 mm reën in 24 uur gekry (Foto: Verskaf)

“Ons moedig ouers en voogde aan om hul samewerking aan skole te gee en die watervlakke in hul onderskeie omgewings dop te hou.

“Ons staan sterk by ons besluit om leerders en onderwysers te alle tye moontlik te beskerm.”

Uitwerking op logistieke bedrywighede

Vragmotors wat na en van die Durban-hawe ry, is intussen ook versoek om halt te roep.

“Vragmotors staan reeds in lang toue langs die N3 en die Marianhill-plaza sit met ʼn 10 km lange opeenhoping tot by Hammarsdale. Volgens die Padverkeersinspektoraat is die probleem egter nou dat vragmotors die teiken van plunderaars word,” het Gavin Kelly, hoof- uitvoerende beampte van die Padvragvereniging, Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens Kelly is toegangspaaie rondom die hawe beskadig, asook vraghouerpersele en vragmotordepots.

“Vragmotors self is ook oorstroom en beskadig. Die gebied is werklik tans ʼn ramp.”

Kelly sê voorts logistieke bedrywighede sal beïnvloed word en dat daar vertragings en onderbrekings met die aflewering van goedere verwag kan word.

“Die vereniging raai lede aan om beweging na Durban te vertraag, en om depots en veilige parkeerplekke vir vragmotors langs die pad te vind.

“Lede word versoek om mekaar waar moontlik by te staan en te help om voertuie van die pad af te kry en vraghouers te beveilig totdat die logistieke ketting weer aan die gang is.”

Kelly sê geen voedsel- en brandstoftekorte word in dié stadium verwag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

miche ·

Plundering van vragmotors en vraghouers gedurende hierdie tragedie waar mense hul lewens en dak oor hul kop verloor?
Dalk moet SA in ‘n Permanente ramptoestand gehou word want dis eintlik maar net presies wat dit is. ‘n Ramp.

Swerwer ·

Nou waar is die wonderlike “Soldate” wat stabiliteit in ons land moet kan handhaaf? O ja…………hul is mos in Mosambiek want Suid Afrika is ‘n wonderlike land sonder roof/moord/brand en vernietiging.

Manie ·

Die land is onomkeerbaar in sy peetjie, beide die regering, asook sy volgelinge en dit opsigself maak van die land ‘n mislukte staat. ‘n Korrupte, slegte breindood regering, gevolg deur ewe slegte mense met lae morele waardes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.