Vloede veroorsaak ontwrigting in Krugerwildtuin en Noordwes

Die foto is Donderdag naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo geneem. Foto: Verskaf.

Die foto is Donderdag naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo geneem. Foto: Verskaf.

Paaie, brûe en kampe in die Krugerwildtuin en gebiede in Noordwes word ook deur erge oorstromings beïnvloed weens swaar reënval vandeesweek in verskeie provinsies.

Reynold Thakhuli, ʼn woordvoerder van SANparke, het Donderdag gesê alle grondpaaie in die suide van die wildtuin en die Krokodilbrughek is gesluit. “Verskeie riviere in die wildtuin is in vloed, waaronder die Limpopo- en Krokodilrivier,” het Thakhuli gesê. “Die Talamati-laagwaterbrug is oorspoel en die Talamati- en Biyamiti-boskamp is gesluit. Alle hoofkampe word nie deur die vloede geraak nie en is steeds in die stadium toeganklik.”

Hy het gesê die H10 tussen Laer Sabie en Tshokwane is ook toegemaak. Thakhuli het gesê teerpaaie kan gebruik word om toegang tot die S60-pad, tussen Punda en Pafuri, te bekom.

Skukuza en Laer Sabie kan slegs bereik word deur Phabeni, die Krugerhek of deur die noorde van die wildtuin.Die H1/1-pad, tussen Pretoriuskop en Skukuza, is gesluit en dié pad kan slegs deur die Numbihek verkry word. Die H14 kan deur Phalaborwa of Letaba bereik word.

In Noordwes is nagenoeg 150 huishoudings in verskillende informele nedersettings naby Brits deur oorstromings geraak, het die provinsiale regering in Noordwes Donderdag gesê.

Honderde huise en paaie is in Segwaelane in Hartbeespoort oorstroom. “Dit word veroorsaak deur swaar reën en die feit dat die Hartbeespoortdam se sluise Woensdag oopgemaak is,” het Lesiba Kgwele, woordvoerder van die provinsiale regering, gesê.

Dertien huise word geraak deur vloede in die Madibeng-munisipaliteit. Altesaam 30 huise is Woensdag oorstroom en twee huise het ineengestort weens vloede in Majakaneng naby Mooinooi. “Die provinsiale noodreddingspan het tydelike skuiling, komberse en tente beskikbaar gestel,” het Kgwele gesê.

Die departement van openbare werke, paaie en vervoer sal ook brûe en paaie in die vloedgeteisterde gebiede ondersoek. Verkeersbeamptes sal paaie dophou en alternatiewe roetes aan motoriste uitwys.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Donderdag gesê reënweer sal na verwagting oor die volgende sewe dae in sommige dele van die land voortduur. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.