Vloede ‘wonderwerk’ vir Van Wyksvlei

Die veld op die plaas Stofbakkies staan tans sowat 1,4 meter onder water. (Foto: Verskaf / Carel van der Merwe)

Waar boere eens biddend gekniel en huilend gesmeek het om reën, loop die water nou meters diep oor die Noord-Kaapse vlaktes.

Die veld op die plaas Stofbakkies buite Van Wyksvlei in die Noord-Kaap staan tans sowat 1,4 meter onder water nadat 185 mm reën oor die afgelope twee dae op dié plaas uitgesak het. Op die oog af lyk dit eerder na ʼn dam.

Carel van der Merwe, ʼn skaapboer van Merwede Boerdery, sê die reën bring ʼn groot gemoedsverandering onder boere en dat daar ná jare se droogte darem nou weer planne gemaak kan word.

Van der Merwe sê sy plaas, Stofbakkies, lyk tans nes sy ander plaas, Waverley, waar sowat 4000 ha al vier dae lank onder vloedwater staan. Dié plaas is tussen Carnarvon en Van Wyksvlei geleë.

Hy kon gelukkig al sy skape betyds na hoër gebiede neem. Volgens Van der Merwe het Waverley sedert Oktober al vyf keer so oorstroom, nadat dit vir sewe jaar soos ʼn dorre woestyn gelyk het.

“Ons het altesaam 400 mm reën vanaf Oktober ontvang. Dis dubbel ’n gemiddelde jaar se reënval en ons reënseisoen beging gewoonlik in Februarie.

Die plaas Waverley tussen Van Wyksvlei en Carnarvon. (Foto: Verskaf / Carel van der Merwe)

“Ons is bitter dankbaar en bid dat al die boere in ons streek wat nog nie genoeg [reën] ontvang het nie, ook nog sal kry.”

Die jaarlikse gemiddelde reënval is tussen 175 mm en 200 mm, hoewel daar tydens die droogte vir sewe jaar lank net sowat 20 mm reën per jaar geval het.

Van der Merwe sê daar sal nou planne gemaak moet word om gemeenskappe by te staan sodat hulle weer hul veestapels aan die gang kan kry.

“Die gemeenskap is op sy knieë. Boere het minder is 30% van hul vee oor terwyl sommiges geen vee oor het nie. Boere se skuldlas is hoog.

“Daar is nou lig die tonnel ná die reën, maar herstel gaan tyd vat.”

Die plaas Waverley tydens die droogte. (Foto: Verskaf / Carel van der Merwe)

Benewens die reën sê Van der Merwe is hy dankbaar vir die ondersteuning wat Noord-Kaapse boere oor die afgelope jare ontvang het.

“Ons boeregemeenskap het deurlopend droogte-ondersteuning van ander boere en gemeenskappe van regoor die land ontvang. Dit was vir ons ongelooflik om te sien hoeveel barmhartige Suid-Afrikaners daar nog is.”

“ʼn God-grootte Wonderwerk”

Ds. Deon van der Berg van die NG Kerk Van Wyksvlei, sê die gemeenskap is “ontsettend geseënd”.

Hy sê hy het in Augustus 2020 tydens ’n droogteuitreik self saam met boere op die dorre grond gekniel en gehuil.

Carel van der Merwe op sy plaas Waverley. (Foto: Verskaf)

“Dis werklik ʼn God-grootte wonderwerk wat ons hier beleef. Die mense se gemoed is weer positief hoewel hulle soveel verloor het. Die veegetalle in die omgewing is erg uitgedun. Die boere  het nog hul grond en ʼn paar skape, maar geld is daar nie meer nie.

“Hierdie reën bring ʼn ontsettende groot verligting.

“Dis die beste droogtehulp ooit – en dit lyk pragtig. Nie eens die groen lande van KwaZulu-Natal kan daarby kersvashou nie.”

Van der Berg het Donderdag ook foto’s van die Van Wyksvlei-dam geneem, wat weer propvol water is –ongeveer 4,5 meter diep. Hy sê hy het ook 22 flaminke getel wat nou spontaan na die dam terugkeer het nadat daar jare geen teken van hulle was nie.

“Sondag ná kerk gaan ons bietjie met ’n boot op die dam ry, iets wat meer as nege jaar gelede gedoen is.”

Verskeie plase het ook reeds die afgelope week goeie reënval van tussen 7 mm en 135 mm gehad. In die dorp self het sowat 300 mm sedert Oktober 2020 geval – meer as al die reën die voorafgaande ses jaar.

Ds. Deon van der Berg Woensdag by die Van Wyksvlei-dam. (Foto: Verskaf)

“Van Wyksvlei se gemeenskap is dankbaar teenoor die Here en elke persoon wat vir ons gebid het en ons deur die droë jare ondersteun het.”

Maroela Media het in Desember verlede jaar berig dat Noord-Kaapse boere verheug was oor die reën wat in groot dele van die provinsie uitgesak het.

Die provinsie gaan al vir die afgelope agt jaar onder erge droogte gebuk en dié droogte is in Julie tot ’n nasionale ramp verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet Snot

Prys die Here!

Danie

My Sandveld hart juig saam met julle!

Diline

Dank aan ons Hemelse Vader vir die wonderlike geskenk aan hierdie boere

Jacobus

Dankie Here vir hierdie broodnodige water.

Janine

Sjoe! Raak ek sommer hartseer! Ek is baie dankbaar vir julle! God is groot!