Vlok meen Morné slaag karaktertoets met lof

Morné Steyn en Vlok Cilliers vier die Bulls se Superrugby-sukses. (Foto: Verskaf)

Vlok Cilliers het destyds tot laat saam met Morné Steyn aan sy skopwerk op Loftus Versfeld geskaaf.

“Ons het baie ure saam op die veld spandeer en dikwels moes ons die stadion se ligte gaan afsit wanneer die ander spelers reeds huis toe is. Ons was gereeld die enigste twee mense op Loftus,” het Cilliers vir Maroela Media gesê.

Die 55-jarige voormalige Springbok hou deesdae weliswaar ʼn wakende ogie oor Frankryk se skopwerk, maar hy het steeds baie tyd en respek vir die speler saam met wie hy ʼn lang pad in Pretoria gestap het.

Steyn trek vandag vir oulaas die Blou Bul-trui oor sy kop wanneer hy teen die Cheetahs in ʼn Curriebeker-wedstryd in die Jakarandastad uitdraf.

“ ʼn Mens kan baie dinge van Morné sê, maar die ding wat vir my die heel meeste uitstaan, is sy karakter. Die outjie wat ná matriek by Loftus se B-veld ingery het en die Morné Steyn wat jy vandag sien, is nog dieselfde persoon; hy het nie verander nie.”

Morné Steyn (argieffoto) (Foto: GB Jordaan)

Volgens Cilliers het rugbyroem glad nie ʼn invloed op Steyn nie en hy het steeds baie tyd vir kennisse en vreemdelinge.

Soos wat hy maar nog altyd gehad het.

Dan is werksetiek en ʼn ongekende vermoë om druk te hanteer – vra net vir die Britse en Ierse Leeus – twee van sy heel grootste sterk punte.

“Morné is ʼn speler wat bereid is om hard te werk, homself onder druk te plaas en dinge buite sy gemaksone aan te pak. As ʼn losskakel kon hy kalm bly wanneer ander sou kop verloor en hy het sy beste vir sy span gedoen. Hy het al soveel skoppe onder groot druk oor die dwarslat gejaag.”

En vandag kan Steyn dit vir oulaas doen. Hy korrel immers nie sommer skeef nie.

  • Steyn en Bismarck du Plessis se laaste wedstryd begin om 15:00 en oudergewoonte word die aksie regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Blou Bulle: Johan Goosen (heelagter), Cornal Hendricks (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), David Kriel (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Ruan Vermaak (slot), Mornay Smith (stut), Jan-Hendrik Wessels (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Simphiwe Matanzima, Bismarck du Plessis, Francois Klopper, Janko Swanepoel, Nizaam Carr, Keagan Johannes, Chris Smith en Wandisile Simelane.

Cheetahs: Tapiwa Mafura (heelagter), Daniel Kasende (regtervleuel), David Brits (buitesenter), Reinhardt Fortuin (binnesenter), Cohen Jasper (linkervleuel), Siya Masuku (losskakel), Rewan Kruger (skrumskakel), Friedle Olivier (agtsteman), Siba Qoma (flank), Gideon van der Merwe (flank), Victor Sekekete (kaptein en slot), Rynier Bernardo (slot), Conraad van Vuuren (stut), Marnus van der Merwe (haker) en Schalk Ferreira (stut). Plaasvervangers: Louis van der Westhuizen, Alulutho Tshakweni, Hencus van Wyk, Jeandré Rudolph, George Cronjé, Daniel Maartens, Zinedine Booysen en Robert Ebersohn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

Ek is nie ‘n Bulls-ondersteuner nie, maar het van Morné as mens gehou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.