Vlok se Tankwa-toer ’n treffer

Vlok Cilliers. Foto: Verskaf.

Vir Vlok Cilliers is die Tour de Tankwa soveel meer as net ’n bergfietsavontuur deur die pragtige Karoo; dit is ’n middel tot ’n spesifieke doel: Om ’n verskil in ander se lewens te maak.

“Dit was ’n reusesukses. Nie net te danke aan die geld wat ingesamel is nie, maar ook weens die vriendskapsbande wat gesmee is,” het die skopafrigter van die Franse rugbyspan gesê.

Sy VlokSkop-stigting is juis van stapel gestuur om studente finansieel by te staan en daar word saam met Helpende Hand gewerk om hulpbehoewende studente te identifiseer en hul studieskuld te vereffen.

Volgens Cilliers was die eerste dag van die trapavontuur sy gunsteling.

“Almal het as vreemdelinge weggespring, maar ná 96 km se swaarkry is daar saam gelag en stories om die kampvuur gedeel. Ons is reeds besig om die volgende toer te reël – dit sal in April 2023 plaasvind.”

Die Tour de Tankwa was ’n sukses. Foto: Verskaf.

Maar vir die gewilde skopafrigter is finansiële hulp egter nie genoeg nie. Van die studente het ’n ouer aan die dood afgestaan en hy poog om ook op ’n geestelike vlak waarde tot hul lewe te voeg.

“Ek wil graag ’n mentor vir die studente wees. Ons stuur gereeld WhatsApp-boodskappe vir mekaar, terwyl my vrou onlangs saam met hulle koffie gaan drink het. Ons wil nie die rol van hul pa of ma oorneem nie, maar ons wil daar wees vir hulle,” het hy gesê.

Cilliers was deel van die Franse groep wat vanjaar die Sesnasiesreeks gewen het. Foto: Verskaf.

Cilliers was deel van die Hane se suksesvolle Sesnasies-veldtog en hy behoort weer in Junie na Frankryk terug te keer; ’n toer na Japan is immers op die spyskaart.

Volgens Wêreldrugby is die Fransmanne tans die naasbeste span op die internasionale verhoog en hulle is ongetwyfeld een van die gunstelingspanne om volgende jaar die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.

“Frankryk het ’n goeie kans in die Wêreldbeker; ons is besig om ’n spesiale span te skep. Natuurlik is daar ander spanne wat ook aanspraakmakers is, maar die Franse het ’n talentvolle groep spelers en hulle is op die regte pad.”

En, soos wat hy in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê het, kan skopwerk ’n deurslaggewende rol in die Wêreldbeker-toernooi speel.

“Op toetsvlak is die spelers se verdediging al so goed dat ’n span van skoppe gebruik moet maak om geleenthede in punte te omskep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.