Vlootoffisier vervolg vir botsing wat vrou eis

Michelle de Clerck (Foto verskaf)

Keamogetswe Khunofo, ’n vlootoffisier, was Dinsdag weer in die Vredenburg-landdroshof –  20 maande ná ’n saak van strafbare manslag teen hom van die rol geskrap is weens die polisie se versuim om die ondersoek te finaliseer.

Ná volgehoue druk van AfriForum se privaatvervolgingseenheid is die saak egter weer op die rol geplaas.

Khunofo was verantwoordelik vir ’n botsing wat Michelle de Clerck se lewe in November 2021 geëis het.

Die privaatvervolgingseenheid se toetrede tot dié saak het ook daartoe gelei dat dissiplinêre stappe teen twee polisielede gedoen is vir hulle hantering van hierdie saak.

De Clerck is op 9 November 2021 oorlede toe sy ’n straat in Saldanha oorgesteek het. Daar word beweer dat Khunofu roekeloos en onder die invloed van drank bestuur het ten tyde van die voorval.

Ooggetuies beweer dat Khunofu teen ’n ander motor resies gejaag het in die besige straat, sê Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid. Khunofu was toe ’n student aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit vir militêre wetenskap by die Saldanha-vlootbasis.

Elmarie de Clerck, Michelle se ma, het die privaatvervolgingseenheid in Junie 2022 genader toe die saak van die rol geskrap is.

Keamogetswe Khunofo (Foto verskaf deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid)

Maroela Media het vroeër berig die 37-jarige Michelle wou nog eendag kinders hê en ʼn huisie op Paternoster koop. Sy is die aand net ná 19:35 deur ʼn 25-jarige bestuurder in ʼn wit Polo doodgery. Sy het die straat na haar motor oorkant die OK MiniMark oorgesteek nadat sy vleis vir ʼn beurtkragbraai gekoop het.

Kapt. Tania Hellfrich, polisiewoordvoerder, het destyds gesê Michelle is op slag dood.

“Die saak is voorheen keer op keer uitgestel as gevolg van verskeie redes wat met die ondersoek verband hou – soos die bloed-alkohol-uitslae en forensiese verslae wat nie voltooi is en in die dossier saamgevat is nie,” sê Bateman. Die privaatvervolgingseenheid het die speurtakbevelvoerder van die Saldanha SAPD genader wat eers behulpsaam was en later ontegemoetkomend geraak het en eenvoudig e-poskorrespondensie geïgnoreer het.

Die eenheid het in Maart verlede jaar ’n diensklag teen die ondersoekbeampte en sy takbevelvoerder ingedien.

“Die SAPD het bevestig dat dissiplinêre stappe teen die ondersoekbeampte gedoen word vir swak ondersoekwerk en teen die takbevelvoerder vir sy optrede jeens die privaatvervolgingseenheid.”

Volgens Bateman het die mislukkings van die SAPD verdere skade aan die De Clerck-familie gerig. “Daar moet gevolge wees vir die polisiebeamptes wat hul grondwetlike verpligtinge versaak het om misdade te ondersoek en in diens van die samelewing se belange – veral slagoffers se belange – op te tree. Sonder die ingryping van die privaatvervolgingseenheid sou hierdie ondersoek nooit afgehandel geword het nie en die familie wat in rou gedompel is sou nooit die geleentheid hê om afsluiting te kry nie. Die eenheid sal voortgaan om hierdie saak te moniteer en toe te sien dat geregtigheid geskied.”

Michelle de Clerck se ouers, Elmarie en André de Clerck, is verpletter ná haar dood. (Foto: Verskaf)

Michelle se ouers, Elmarie en André de Clerck, is bekendes in Weskus-perdrykringe. Volgens Elmarie het haar middelkind, haar sonneblomkind, nooit ʼn dag laat verbygaan sonder om iets te kry om oor opgewonde te raak nie. Sy was ʼn ywerige fotograaf wat pragtige foto’s en video’s geneem het van elke lewensoomblik wat haar aangeraak het. Sy het ook die res van die familie se liefde vir perde gedeel, veral vir die vulletjies.

Elmarie het die verrigtinge bygewoon. “Ek is dankbaar vir AfriForum se betrokkenheid en dat hulle dit reggekry het dat die saak weer op die rol geplaas is. Ons hoop dat geregtigheid sal seëvier,” sê sy.

Die saak is uitgestel tot 15 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Windhond ·

Wat n tipe land is dit dat die polisie te sleg is om hulle werk te doen nie, die lede op grondvlak is nou al net so uitgedun en onbevoeg soos die pap skepper bevelvoerders

Papsak ·

Shame so jammer ne sterkte aan haar ouers en familie ja so beskerm hulle mekaar sluit toe klaar

Johann ·

Ongelooflik. So.as.die.polosoe nie gedwing word om op te tree nie, doen hulle bloot niks? ANC LEGACY van onaanspreeklikheid en onverandwoordbaarheid.

Yvonne ·

Dit lyk asof daar by SAPS prioriteite gegee word aan ras eerder as die saak self…hoe tragies het ons land nie geword nie

Wondermaarnet ·

Mag die saak vinnig afgehandel word en hy sy straf kry! Sterkte aan die familie. Die kaders moet ophou mekaar beskerm.

Di ·

Ja so word die kroonwild beskerm! Was dit andersom was die saak LANKAL in die hof met die EFF op die voorgrond

SjN ·

Net nog n bewys van die onbevoegdheid danksy kader aanstellings en minimum slaagsyfer, sterkte aan die naasbestaandes en hoop geregtigheid geskied.

ES ·

Die enigste manier hoe ons hierde gaan beter maak is by die stembussie. Want dis die ANC se nalatenskap wat ons hier sien.

AH ·

Ek het nie woorde nie! Dit is totaal en al onaanvaarbaar! Ek hoop dat reg en geregtigheid sal seëvier.

Bolandse Nooi ·

@Jacobus, regtig! Die Minister van Polisie kan net so min aangekla word – van wát, in elk geval, in hierdie saak? – as die man in die maan! Het Cele agter die stuur van die VW Polo ingeklim en dronk bestuur? Nee. Het hy geweier om die saak verder te ondersoek en vervolging in te stel? Nee. So, waarvan wil jy hom aankla? Omdat hy die Minister is, wat “in beheer” is van die sowat 180 000 polisiebeamptes in Suid-Afrika? Nou moet hy ‘pa’ staan vir ieder en elkeen van daardie 180 000 beamptes se “wrong doings”?

Mario ·

@Bolandse Nooi. Ja ek stem saam met Jacobus. Cele moet verantwoording doen vir die SAPS lede wat nie hulle werk doen nie. Jy lei n polisie mag met verantwoording en sovêr ek kan sien doen hy absoluut niks aan die bevelvoerders waaronder hierdie lede geplaas is nie. Sodra hierdie lede vasgevat word of ontslaan word en voorbeelde gemaak word sal jy sien SAPS sal verbeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.