Die Suid-Afrikaanse vloot se duikbootafdeling is ʼn hoogs professionele en goed opgeleide organisasie en dat die natuur anders besluit het, is nie te wyte aan die vloot se professionaliteit nie.
Só het v.adm. Monde Lobese, hoof van die vloot, gesê in reaksie op die drie slagoffers wat Woensdag tydens ʼn vlootoefening in Kommetjie dood is. “Tragedies van hierdie aard vind in vlote oor die hele wêreld plaas,” het Lobese bygevoeg.
Lt.kdr. Gillian Elizabeth Hector (née Malouw), MHAO (meester-hoofadjudantoffisier) William Masela Mathipa (stuurman) en AO1 Mmokwapa Lucas Mojela (stuurman in opleiding) is in die voorval dood.
Die lede was besig met ʼn oefening waartydens ʼn Lynx-helikopter van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) goedere na die duikboot SAS Manthatisi oorgelaai het. Die duikboot is egter deur groot branders getref en lede van die vloot is deur die see meegesleur.
Lobese het gesê hy is diep bedroef oor die tragiese verlies van drie van die vloot se beste duikbootvaarders.
“Die omvang van die verlies is iets wat moeilik is om te begryp,” het Lobese gesê en bygevoeg dat hy verlede week nog met van hulle gesels het.
“Hulle was so trots om my in te lig oor hul gereedheid om na die Waterfront te gaan vir die minivlootfees en dat hulle verskeie oefeninge onderweg sal uitvoer. Ons het gelag en hand geskud, en ek het hulle ʼn veilige reis toegewens, en nooit gedink dat hierdie tragedie sou plaasvind nie.”
Die minivlootfees wat van vandag tot Maandag sou plaasvind, is intussen gekanselleer weens die voorval.
“Ons sal die siele van die dapper helde en heldin wat oorlede is, onthou wat hul land met trots en ywer gedien het. Dit is nou die tyd vir die vlootfamilie om te verenig en vir die afgestorwe kollegas en hul gesinne te bid. Laat ons almal sterk wees en hul gesinne in ons gebede en gedagtes hou.”
Volgens Lobese is die tragedie nie net hartseer vir die oorledenes se familielede nie, maar ook vir die duikbootafdeling, die vloot en die land in die algemeen.
Hy het sy dank uitgespreek aan die vlootlede van die duikbootafdeling, die lugmag se Lynx-helikopterafdeling, nooddienswerkers en lede van die Nasionale Seereddingsinstituut vir hul “heldhaftige” reddingspogings en gesê sonder hulle sou die voorval soveel erger gewees het.
Lobese woon tans ʼn internasionale vlootsimposium in Amerika by. Volgens hom is die geleentheid lank vooraf beplan en het hy daar van die tragiese voorval kennis geneem. Hy het probeer om onmiddellik terug na Suid-Afrika te keer, maar kon nie ʼn vroeër vlug kry nie.
Die beseerde lede is geïdentifiseer as bevelvoerder Charles Nkolo Phokane, wapensoffisier lt. Melinyani Gobinca, AO1 Brendan Daly wat in beheer is van duikbootontsnapping, AO2 Ayanda Mahlobo wat aan hoof is van die afdeling elektrisiteit en AO2 Charles Kriel wat hoof van die afdeling bespeuring is.