Vlugte dán beskikbaar van Wonderboom na die Moederstad

Wonderboom-lughawe Foto: My Broadband

Wonderboom-lughawe Foto: My Broadband

Reisigers tussen Pretoria en Kaapstad kan vanaf 16 Augustus van 18 vlugte per week gebruik maak tussen die Wonderboom-lughawe en die Kaapstadse Internasionale Lughawe.

Die vlugte sal deur Airlink, ʼn onafhanklike streekslugredery in Suider-Afrika, aangebied word. ʼn Airlink-konsultant het Vrydag aan Maroela Media bevestig daar sal op weeksdae om 06:45 ʼn vlug wees, elke dag van die week om 10:30 en ses dae ʼn week om 17:45, Saterdae uitgesluit.

’n Avro RJ85-vliegtuig sal vir die vlugte gebruik word en die vlug sal twee en ʼn half uur duur. Die konsultant kon nog nie die koste van die vlugte bevestig nie, omdat dit nog nie op Airlink se stelsel gelaai is nie.

Hoewel die Wonderboom-lughawe nog nie op die roetelys op die lugredery se webtuiste aangedui word nie, kan passasiers reeds hul kaartjie bespreek deur op die vlugskedule-opsie te klik, dan ‘alle roetes’ te kies en die datum en Wonderboom of PRY as opsie in te sleutel. Mense kan ook ʼn Airlink-konsultant bel om die vlug te bespreek.

Kgosientso Ramokgopa, uitvoerende burgemeester van Tshwane, het die aanvang van die vlugte vanaf Wonderboom-lughawe tydens sy begrotingsrede op 14 Mei aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.