Vlugte na Mauritius, Frankryk opgeskort

(Argieffoto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Saterdag amptelik aangekondig dat hy Maandag alle vlugte na Mauritius gaan opskort. Air France het reeds sy vlugte na Frankryk vir die naweek opgeskort.

SAL het in ’n verklaring gesê sy laaste vlug na Mauritius sal Sondag vertrek en daarna sal vlugte opgeskort word. Dié besluit kom na aanleiding van die reisverbod wat deur die regering in Mauritius ingestel is op alle kommersiële vlugte na en van Suid-Afrika vanaf Maandag 29 November tot en met Vrydag 31 Desember.

Paniek het uitgebreek nadat ’n nuwe Covid-19-variant, genaamd Omikron, Donderdag in Suid-Afrika bevestig is. Talle lande het ’n dag later hul grense vir Suid-Afrikaanse reisigers gesluit.

Volgens SAL sal al sy ander vlugte soos normaal voortgaan.

“Ons sal voortgaan om die situasie noukeurig te monitor en altyd die gesondheid en veiligheid van ons passasiers eerste te stel,” het die lugredery in ’n verklaring gesê.

Air France het sy vlugte van Johannesburg en Kaapstad na Parys, Frankryk, gekanselleer nadat Franse owerhede die land se grense vir reisigers van sewe Suider-Afrikaanse lande, Botswana, Suid-Afrika, Eswatini, Lesotho, Mosambiek, Namibië en Zimbabwe, gesluit het.

“Air France wag vir die voorwaardes van die Franse owerhede wat van toepassing sal wees vanaf Maandag. Bespreekte kliënte sal so gou moontlik individueel in kennis gestel word van enige veranderings,” bevestig Air France.

“Air France-spanne by lughawens en kliënteverhoudingsentrums word gemobiliseer om kliënte te help wat hul reise wil verander of uitstel. As deel van die ‘Air France Protect’-maatreëls is alle Air France-kaartjies volledig veranderbaar en terugbetaalbaar tot op die dag van vertrek vir reis tot 30 Junie 2022.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johanncb ·

En só saai ons regering paniek wêreldwyd! Nog ‘n bleek Kersfees, nog ‘n bleek Desember en totsiens ekonomie!

Louis ·

Kan maar net wonder wat “my fellow citizens ” nou weer gaan aankondig met volgende family meeting en so strompel ons voort van die een inperking na die ander en die land se ekonomie is net nog meer in trurat.

Jaco ·

Hy sê ook sulke lelike goed van wit mense dat ek seker daarvan is dat wit Suid-Afrikaners nie deel van die “family” is nie. Ek wens Corona verdwyn finaal; dan kan ramaphosa mos al die wit mense van SA deporteer na Europa, Amerika, Kanada en Australië. Eks ten volle bereid om met niks en van vooraf te begin in ‘n land sonder al die euwels van SA.

Frederik C ·

Ek was rêrig nie bewus daarvan dat SAL weer in bedryf is nie.

annie ·

Of dit die volle waarheid is rondom die omikron-variant sal ons seker nooit weet nie, maar dit klink verdag dat SA skielik dit ontdek maar dan word dit wêreldwyd opgetel in nuwe toetse in die buiteland. Dalk was buitelandse navorsers laks en ons s’n wakker, maar die skielike oraloor… So vinnig?

madels ·

Dis presies wat gebeur het, SA is wakker en het dit vinnig opgetel wanneer dit alreeds in ander lande ook is maar nou dink die hele wêreld dit het hier in SA eers uitgebreek.

Jakes ·

Daar is darem n paar mense wat nie alles glo wat hulle hoor of lees in SA nie.

Niklaas ·

Wat ‘n terugslag vir diegene wat lank gespaar het vir hul Desember vakansie in Mauritius. Dis nie altyd moontlik om vir 2 of meer maande uit te stel nie.

Dries ·

Leuenaars. Maandag se g…. Ons is nou net weggewys op OR Thambo. My skade is enorm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.