Vlugte tydens vlak 3: Hier’s wat sakereisigers kan verwag

Argieffoto (Foto: Nick Zigic/Pixabay)

Suid-Afrikaners word gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk eindelik weer toegelaat om vir sakedoeleindes plaaslik te vlieg. Drie van die land se groot lughawens is in dié stadium oopgestel, naamlik die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg, Kaapstadse Internasionale Lughawe en die Koning Shaka Internasionale Lughawe in Durban.

“Sakereisigers sal die eerstes wees om die ‘nuwe normaal’ te ervaar wat lughawens, vliegtuie en verblyf betref,” het Bonnie Smith, hoofbestuurder van FCM Travel Solutions, Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Hier is wat hulle te wagte kan wees:

Vliegtuigkaartjies

Smith het verduidelik dat hoewel lugrederye sitplekke dringend sal wil vul om te vergoed vir inkomste wat gedurende die algehele landwye afsondering verlore gegaan het, dit nie noodwendig beteken dat verbruikers afslag in vliegkaartjies moet verwag nie.

“Soos met enige ander onderneming sal pryse afhang van vraag en aanbod,” het Smith verduidelik.

Volgens Smith beloop FlySafair se retoervliegkaartjies tussen Johannesburg en Durban tans gemiddeld R2 238 terwyl ʼn retoervliegkaartjie tussen Johannesburg en Kaapstad jou minstens R3 038 uit die sak sal jaag.

Mango se retoervliegkaartjies tussen Johannesburg en Kaapstad begin by sowat R3 329 en R1 949 vir ʼn retoerkaartjie tussen Johannesburg en Durban, het Smith gesê.

Lugrederye vlieg minder oor naweke   

(Foto: Comair/Facebook)

Volgens Smith bedryf CemAir vanaf vandag (Vrydag) vlugte tussen Johannesburg en Kaapstad. Dié lugredery sal vanaf eerskomende Maandag vlugte tussen Johannesburg en Durban begin bedryf. CemAir bied egter nie vlugte gedurende die naweek nie, het Smith gesê.

Airlink sal sy bedrywighede vanaf Maandag hervat met twee daaglikse vlugte tussen Johannesburg en Durban en Johannesburg en Kaapstad. Dié lugredery sal egter sy kapasiteit oor naweke verminder.

FlySafair hervat sy bedrywighede eers op 15 Junie wanneer slegs 20% van sy vlugte sal vertrek vergeleke met die aantal vlugte voor die uitbreek van die pandemie.

Volgens Smith sal dié lugredery daagliks twee vlugte tussen Johannesburg en Durban en op weeksdae vier vlugte tussen Johannesburg en Kaapstad aanbied. Beperkte vlugte word oor naweke verwag.

Mango sal ook sy vlugte vanaf 15 Junie hervat met slegs twee vlugte op weeksdae tussen Johannesburg, Kaapstad en Durban. Minder vlugte sal oor naweke bedryf word.

Volgens Smith is dit in dié stadium onduidelik of Kulula.com sy vlugte gedurende vlak 3 sal hervat aangesien die lugredery vroeër aangedui het dat hy eers vanaf November vanjaar vlugte sal aanbied.

Middelste sitplek

Foto: @denyszhylin/Unsplash.com

Smith verwag dat die middelste sitplek nié oop sal moet bly weens veiligheidsmaatreëls nie, aangesien die Internasionale Lugvervoervereniging (IATA) reeds aangedui het dat die risiko van Covid-19-oordrag van een passasier na ʼn ander passasier in die vliegtuig se kajuit baie laag is.

Volgens Smith toon navorsing dat die oordragrisiko op vliegtuie beduidend verminder word danksy die rugkant van stoele wat as hindernisse tussen passasiers dien. Vliegtuie het ook lugfilters wat soortgelyk is aan dié wat in teaters in hospitale gebruik word. Dié filters is 99,97% doeltreffend om virusse te verwyder.

Navorsing toon ook dat die oordragrisiko verminder word weens beweging wat aan boord beperk word. “Lugrederye word dus toegelaat om op volle kapasiteit te werk,” het Smith gesê.

Smith wys wel daarop dat FlySafair reeds aangedui het dat indien die vlug minder as 67% bespreek is, die middelste sitplek oop sal bly. Reisigers kan ook kies om ʼn ekstra sitplek langs hulle te bespreek en daarvoor te betaal.

Veiligheidsmaatreëls

Volgens Smith sal vliegtuie saans ontsmet word hoewel die badkamers, armleunings, sitplekgordels, knoppies en handvatsels tussen vlugte met ontsmettingsmiddel gespuit sal word.

Bemanningslede en passasiers se temperatuur sal voor die vlug geneem word en diegene met ʼn temperatuur van hoër as 38 grade Celcius sal nie aan boord toegelaat word nie.

Die dra van maskers in die vliegtuig is verpligtend. Geen tydskrifte sal aan passasiers beskikbaar wees nie en geen verversings sal gedurende die vlug verkoop word nie.

Lughawens

OR Tambo-lughawe (Foto verskaf aan Maroela Media)

Smith waarsku dat verskeie veranderinge aan lughawens aangebring is. Passasiers word verplig om ʼn masker op die lughawe te dra. Passasiers se temperatuur sal ook nagegaan word met hul aankoms by die betrokke terminaal. Passasiers sal toestemmingsbriewe vir reis om sakedoeleindes met hul aankoms by die lughawe moet wys.

Alle bagasie moet voortaan weens higiëniese doeleindes met plastiek oorgetrek word.

“Die nuwe prosedures en protokol sal na verwagting tyd neem en passasiers moet minstens twee uur voor die vlug reeds op die lughawe wees,” het Smith verduidelik.

Permitte

Volgens Smith is dit sakereisigers se eie verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle die nodige toestemming het om te kan reis, nog selfs voordat hulle ʼn vliegkaartjie koop.

Sakereisigers sal ʼn brief met die briefhoof van die maatskappy moet kan toon. Dié brief moet deur ʼn bestuurder onderteken word en saam met ʼn voltooide vorm vir ʼn werkgewerspermit getoon kan word. Dié vorms is beskikbaar op die FCM-webwerf.

Passasiers sal nie aan boord toegelaat word sonder dié dokumente nie.

Huurmotors

Dit sal moontlik wees vir sakereisigers om ʼn huurmotor te huur, het Smith bevestig. Huurmotoragentskappe sal egter aan streng protokol moet voldoen. Dit sluit in die gereelde  ontsmetting van huurmotors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Hoe vlieg die bankrot rederye ? Klap die vliegtuie hul vlerke , of klap die heersers hul vingers ?

Cherokee ·

Ek hoop die lugrederye handhaaf dieselfde streng protokol as swart taxis wat passasiers 2 meter van mekaar laat sit.

JohanR ·

R750 betaal op Safair om die middel sitplek leeg te laat. Nou as die persoon wat venster sitplek bespreek, en die persoon wat gang sitplek bespreek elkeen R750 betaal, dan maak Safair nou R1500 uit die middel sitplek. Nice work if you can get it!

Die Wolf ·

Bagasie met plastiek oortrek? Die virus sal aan die plastiek ook vasklou. Stuur die bagasie liewers deur n ontsmettingstonnel Hierdie is net weer n geldmaak skema, Die beginsel van plastiek om jou bagasie met plastiiek toe te draai is om dit te beskerm teen langvingers, asook teen die verniel daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.