‘Vlugtelinge laat mensehandel in SA toeneem’

Argieffoto

Argieffoto

Die toename in vlugtelinge in Suid-Afrika het die aantal mensehandelsake in Limpopo laat toeneem.

Die organisasie Stop Trafficking of People het ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om hul taktiek om die slagoffers van mensehandel te identifiseer, op te skerp. Minstens 251 slagoffers van mensehandel is sedert Januarie in die provinsie van sindikate gered.

Volgens die polisie is die slagoffers van Malawi, Ethiopië, Zimbabwe en ander lande in die Midde-Ooste en word met allerlei beloftes na Suid-Afrika gelok.

Corinne Sandenbergh, direkteur van Stop Trafficking of People, het gesê talle van die slagoffers word in prostitusie ingedwing.

“Mensehandel is ʼn ingewikkelde en komplekse misdaad. Dit is nie ʼn lyk of ʼn verminkte vrou nie, dit is ʼn vrou wat deur die grens stap en sê sy is ʼn vlugteling.” Sy sê sedert mensehandel-wetgewing verlede jaar opgeskerp is, word diegene wat hulle aan mensehandel skuldig maak, gouer ontmasker.

Sandenbergh het ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om die slagoffers van mensehandel te beskerm nadat die skuldiges verhoor is. Sy het gesê die slagoffers moet ook nie te vinnig na hul tuislande gedeporteer word nie.
“Ons moet die slagoffers in ʼn plek van veiligheid hou sodat ʼn behoorlike saak voor die hof gebring kan word en die skuldiges tronkstraf kry.”

Genl. Nonhlahla Zulu, adjunk-polisiekommissaris in Limpopo, het erken dat mensehandel ʼn groot probleem in die provinsie is. Hy het gesê ʼn spesiale taakspan is op die been gebring hiervoor. “Daar is glo ʼn sindikaat en ons volg inligting op.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

Vaderland tog. Daar is al jare sindikate wat mensehandel in ons sonnige Suid-Afrika bedryf. Moenie net opvolg nie! Werk dag en nag daaraan en vlek dit oop en vernietig dit. Dis ‘n vreeslike bedryf. En ja, baie goed het negatief verander met al die mense wat oor grense bloot oorstap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.