Vlugtelinge voor VN-kantoor in Pta verwyder

(Foto: Michele Spatari/AFP)

Die polisie het Vrydag meer as 100 vlugtelinge verwyder wat al vir langer as drie jaar buite die kantoor van die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir Vlugtelinge (VNKHV) in Pretoria gewoon het.

Die vlugtelinge het tydelike strukture op sypaadjies buite die VNKHV-streekkantore opgerig en het versoek om na ander lande gestuur te word ná ʼn vlaag xenofobiese geweld in 2019.

ʼn Hooggeregshofbevel is bekom om hulle te verwyder en na die Lindela-repatriasiesentrum te neem wat ʼn tydelike aanhoudingsentrum is vir ongedokumenteerde vlugtelinge wat geoormerk is vir deportasie na hul lande van herkoms.

Talle polisiebeamptes het met die hulp van immigrasie- en ander beamptes die plakkers verwyder.

Hulle is gewaarsku dat hulle in hegtenis geneem sal word indien hulle teenstand bied.

(Foto: Michele Spatari/AFP)

Sommige gesinne het vrywillig die perseel verlaat terwyl ander hulle teengesit het. “Dit is beter vir my om hier te sterf, want ek gaan nie Lindela toe nie,” het een vlugteling geskree. Volgens berigte is talle mense in hegtenis geneem vir weiering om die perseel te verlaat.

Laura Padoan, woordvoerder van die VNKHV, het aan AFP gesê “hulle vra dat ons hulle na ʼn vlugtelingkamp in ʼn ander land vervoer, maar dit is buite ons mandaat”.

Polisiebeamptes het reeds Woensdag probeer om die vlugtelinge te oorreed om in voertuie te klim om hulle weer na Lindela te neem, maar hulle het volstrek geweier.

Die gesinne woon sedert hul terugkeer na die perseel in tydelike skuilings van plastiek en hout. Sommige bedel soms by verkeersligte in die omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.