Vlugtelingeleier dreig glo MRK-kommissaris met die dood

Vlugtelingleier Jean-Pierre Balous (middel). (Argieffoto: Tariro Washinyira)

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het in ʼn verklaring gesê hy neem met kommer kennis van ʼn dreigement Dinsdagoggend teenoor kommissaris Chris Nissen.

“Die dreigement is gemaak deur een van die leiers van ʼn groep vlugtelinge wat sedert Oktober 2019 die Sentrale Metodistekerk op Groentemarkplein in Kaapstad se middestad beset,” het Gushwell Brooks, woordvoerder van die MRK, gesê.

“Die leier, bekend as JP Balous, het voor die aanvang van die hofverrigtinge by die Wes-Kaapse hooggeregshof gedreig dat hy kommissaris Chris Nissen gaan doodmaak.”

Die hofverrigtinge spruit uit ʼn aansoek deur Stad Kaapstad wat versoek dat sy munisipale wetgewing toegepas moet word teen rommelstrooi, die aansteek van vure op die sypaadjie, openbare urinering en ontlasting deur die betogers wat by die kerk uitkamp sedert hulle laat in Oktober 2019 van die Waldorf-kantoorgebou in St Georges Mall uitgesit is.

“Balous het verdere uitlatings en bewerings teen kommissaris Nissen gemaak wat vals is en die waardigheid en integriteit van die kommissaris en die MRK bedreig,” het Brooks bygevoeg. “Die Kommissie is ten volle oortuig dat die bewerings nie opgaan nie, net soos die talle ander valse beloftes wat Balous gemaak het.”

Vlugtelinge skuil nou reeds maande lank in die Metodistekerk in die Kaapstadse middestad. (Foto: Madison Yauger/GroundUp)

Balous was persoonlik betrokke in fisieke aanrandings op geestelikes in November 2019 waartydens Nissen ook beseer is, het hy gesê. Die geestelikes wou direk met die betogers kommunikeer oor hul moontlike opsies om die besetting van die kerk tot ʼn einde te bring. “Nissen wou ʼn vreedsame en langdurige oplossing verseker, en het selfs by die politieke leierskap in die stad en provinsie gepleit om die voorstel van alternatiewe akkommodasie te oorweeg – teen die advies van ander rolspelers weens die bedenklike behuisingsituasie in die stad en provinsie.

“In die lig van die aanval op kommissaris Nissen se waardigheid en integriteit – en by implikasie ook die MRK in sy geheel – kan die kommissie nie verder betrokke wees in enige gesprekke oor die saak nie. Die Kommissie oorweeg sy eie regstappe wat betref die doodsdreigemente en sal stappe doen teen enigiemand wat nie die Kommissie respekteer nie of ongrondige bewerings maak.”

Brooks het bygevoeg die MRK het die afgelope vier maande, terwyl hy by die saak betrokke was om die veiligheid van kwesbare vroue en kinders in die groep te beskerm, sy grondwetlike mandaat van regverdigheid en onpartydigheid volgehou, selfs al was daar ooglopende voorbeelde van oneerlikheid aan die kant van die leiers van die betoging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Terence ·

Ironies hul mag sonder toesteming of betaling ons grense oorsteek en nou sit ons met die probleem.word gedreig om hom en sy las op belasting betaler se onkoste terug huis tie te vat.dankie anc vir net nog n sisteem wat jy ons mee belas.

Spook ·

Is die waardige “vlugteling” nog nie gedeporteer terug na sy eie land toe nie? Eenrigtingkaartjie sal goed werk.

Jannie van Niekerk ·

Hoekom word hy nie in hegtenis geneem nie? Of is die ANC “bang” vir die (Afrika) buiteland?

Lisam ·

Hulle kom met te veel weg in SA. in ander lande word jy dadelik deport.

marius ·

Hoop mnr nissen het dadelik ‘n klagte by die mrk ingedien .

Hennie ·

Wonder wanner die petalje tot ‘n einde gaan kom. Wetstoepassers se hande is afgekap.

Niné ·

Wat laat hulle dink dat hier beter vooruitsigte vir hulle gaan wees. Seker na die ANC se propoganda masjien geluister en kyk hoe lewe hulle nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.