Vlugtelingkrisis in Kaapstad: ‘Oplossings moet gevind word’

Vlugtelinge in Kaapstad (1 Maart 2020) (Foto: David Ritchie/African News Agency/ANA)

Bongani Bongo, voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het Dinsdag gesê daar moet so gou as moontlik oplossings gevind word vir die vlugtelingkrisis wat steeds in Kaapstad heers.

Volgens Bongo is talle pogings tot ingrypings reeds aangewend en ’n onlangse hofbevel is toegepas vir die verwydering van die vlugtelinge wat die Groentemarkplein in die middestad van Kaapstad sedert verlede jaar Oktober onwettig beset.

Maroela Media het vroeër berig vlugtelinge het laat gespaander toe Kaapstadse wetstoepassers hulle Sondag van die Groentemarkplein af begin verwyder het. Ingevolge die hofbevel mag die vlugtelinge ook nie op enige ander plek in die middestad gaan plak nie. Van die vlugtelinge het nader aan die departement van binnelandse sake se kantore in Kaapstad geskuif.

Bongo sê alhoewel hulle vlugtelinge en asielsoekers in die land verwelkom, wil hulle vlugtelinge ook maan om die land se wette na te kom.

Kaapstad het Sondagoggend begin om die vlugtelinge te laat verwyder. (Foto: David Ritchie/ANA)

Bongo het benadruk dat die vlugtelinge volgehou het om die wette van hierdie land te ondermyn. “Dit is hul manier om die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR) te dwing om op te tree op ’n manier wat slegs vir hulle tevrede stel,” sê Bongo. Die UNHCR het reeds gesê dat hy nie kan help nie.

Bongo het gesê die stadsverordeninge van Kaapstad en die onlangse hofbevel moet ook ten volle toegepas word om te verseker dat die saak opgelos word.

Verder het hy die portefeuljekomitee ingelig dat hy met die lande waarheen die vlugtelinge sê hul bereid is om te verhuis, in verbinding getree het. Hierdie lande is egter nie bereid om hulp te verleen nie.

“Ons wil ʼn beroep doen op die vlugtelinge om te oorweeg om weer deel te raak van die gemeenskappe waaruit hulle kom en om kinders in staat te stel om weer skool toe te gaan,” het Bongo gesê.

Bongo doen ’n beroep op alle regeringsvlakke om met die UNHCR en die vlugtelinge saam te werk om oplossings te vind vir die uitdagings wat die vlugtelinge in die gesig staar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
PieterP

Jy gaan as vreemdeling na ‘n ander land toe en gaan staan maak en breek soos jy wil en sê hoe wil jy wat gedoen hê. Stel eise dat jy nou na die en daai land wil gaan en nie terug na jou eie geboorteland toe nie. Maar my liewe aarde boet Fasie, jaag hulle terug waar hulle vandaan kom. Ek is moeg dat alles en almal se regte benadeel word sou jy teen hulle siening wees. Wat van die res van ons wat die smal paadjie probeer loop en elke dag na julle tantrums moet luister. BASTA!

ElizeK

Kry vir julle.
ALMAL wettig of onwettig is mos welkom in SA.
Vra die ANC of nog beter, die seuntjie wat vandag 39 is vir oplossings.
Net goed om van verhoëe af te skreeu en te toi toi.

Pieter J

Hoekom kan hulle nie net gedeporteer word nie? Hulle is nie vlugtelinge nie.

Chris

Gaan sit die mense op die flêts of in Pietoria in tente. Laat hulle bietjie uitkamp. Hoe het hulle hier gekom. Stuur hulle terug,

Sarel

Oplossing Deporteer die lot