Vlugtelingleier vas vir aanranding

‘n Polisiebeampte buite ‘n skuiling waar vlugtelinge woon in Kaapstad. (Foto: Ayanda Ndamane, ANA)

Die leier van ’n groep vlugtelinge wat tans skuiling in die Metodistekerk in die middestad van Kaapstad vind, is Woensdag in hegtenis geneem op verskeie aanklagte van aanranding.

Die 38-jarige Kongolese burger sal Vrydag in die plaaslike landdroshof verskyn op agt aanklagte van aanranding, waarvan vyf met die opset om ernstige skade aan te rig.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, sê die inhegtenisneming volg ná verskeie vlugtelinge beweer het dat die leier hulle aangerand het. Hulle is deel van 500 vlugtelinge wat sedert Oktober verlede jaar in die kerk in Kaapstad woon.

’n Groep van sowat 50 vlugtelinge het kort ná die inhegtenisneming buite die plaaslike polisiestasie saamgedrom en daarop aangedring dat die leier vrygelaat word. Die groep is later aangesê om die polisiestasie te verlaat.

Die situasie in die kerk was verlede week gespanne toe die vlugtelinge met mekaar slaags geraak het.

Kapt. Andre Traut, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media verduidelik dat die polisie Sondag na die kerk ontbied is ná ’n onderonsie tussen die vlugtelinge ontstaan het. Drie mans is ook in hegtenis geneem vir die besit van onwettige wapens.

Die mans sal in ’n hof verskyn sodra hulle formeel aangekla is.

“Die situasie is sedertdien gestabiliseer. Intussen patrolleer ons lede die gebied om te verseker dat wet en orde gehandhaaf word,” het Traut bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig honderde buitelandse burgers het in Oktober verlede jaar weke lank buite die kantore van die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir Vlugtelinge (VNHKV) in die Kaapstadse middestad uitgekamp. Hulle is daar verjaag en ongeveer 500 vlugtelinge, meer as die helfte van hulle kinders, woon sedertdien in die kerk.

Hulle is nou in ’n hofstryd met die stadsraad gewikkel.

Dié mense wil hê die VN moet hulle hervestig omdat hulle onveilig in Suid-Afrika voel weens toenemende xenofobiese aanvalle teen hulle. Die meeste van dié groep buitelandse burgers is asielsoekers wat nie daarin kon slaag om vlugtelingstatus te verkry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.