VN gevra om ‘robotwapens’ te verbied

stop-killer-robots-twitter

‘n Groep betogers het in Genève, Switserland bymekaar gekom om ʼn beroep op die VN te doen om nou reeds ʼn verbod op die gebruik van ten volle outonome wapenstelsels te plaas. Foto: @BanKillerRobots/Twitter.

Amnestie Internasionaal het vroeër vandeesweek ʼn beroep op die Verenigde Nasies (VN) gedoen om nou reeds ʼn verbod op die gebruik van ten volle outonome wapenstelsels te plaas.

Regeringskenners oor dodelike outonome wapenstelsels vergader dié week in Genève, Switserland, tydens die VN se konvensie vir konvensionele wapentuig. Dit is ook die vergadering waar lande die invloed van ten volle outonome wapenstelsels op menseregte-, humanitêre, etiese en veiligheidskwessies kan bespreek.

Volgens Rasha Abdul Rahim, Amnestie Internasionaal se navorser en raadgewer oor kunsmatige intelligensie en menseregte, is dié soort wapenstelsels beslis lankal nie meer iets wat net in wetenskapsfiksie voorkom nie.

“Hommeltuie met gevorderde kunsmatige intelligensie is reeds beskikbaar. Geoutomatiseerde gewere, wat hulle eie teikens kan kies, is ook reeds ʼn werklikheid en deel van die soort tegnologiese vooruitgang wat baie vinniger as internasionale reg beweeg.

“Ons beweeg na ʼn toekoms waar mense heeltemal uit die besluitnemingsproses oor die gebruik van geweld uitgesluit word, maar dit is nog nie te laat om die verloop van sake te keer nie,” sê Rasha.

Die meerderheid state het by die laaste vergadering van dié konvensie in April 2018 die belangrikheid van die behoud van mense se beheer oor wapenstelsels beklemtoon.

Altesaam 26 lande waaronder Oostenryk, Brasilië en Egipte het ʼn algehele verbod op dié soort stelsels ondersteun terwyl China gesê het ʼn nuwe soort protokol moet ontwikkel word om die gebruik van intelligente, outonome wapenstelsels te verbied.

Volgens Amnestie Internasionaal wou state soos Frankryk, Israel, Rusland, die VSA en die Verenigde Koninkryk, wat reeds bekend is daarvoor dat hulle outonome wapenstelsels ontwikkel, hulle nie aan die ontwikkeling van enige bindende verbod verbind nie.

Amnestie Internasionaal sê die organisasie sal hom bly beywer vir die daarstelling van wetlik bindende standaarde wat sal verseker dat mense by die kern van “kritiese funksies” van wapenstelsels sal bly, soos by die identifisering, seleksie en betrokkenheid van teikens van geweld.

Intussen blyk dit dat tegnologiereuse al lank met die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie en die gepaardgaande etiese kwessies stoei.

Maatskappye soos Google se DeepMind-afdeling, Facebook, IBM, Microsoft en Amazon het in 2016 al byeengekom om die Vennootskap vir Kunsmatige Intelligensie te skep waar die maatskappye onder meer etiese kwessies rakende die ontwikkeling van gevorderde intelligente tegnologie ondersoek en maniere probeer vind om dit aan te raak.

Elon Musk, uitvoerende hoof van Tesla, het ook al oor sy bekommernis oor die ontwikkeling van kunsmatige tegnologie getwiet. Volgens Musk het dié soort tegnologie die potensiaal om gevaarliker as kernwapens te wees. Hy het ook sy eie niewinsgewende groep, Open AI, in 2015 gestig wat na die etiese kwessies rakende die ontwikkeling van kunsmatige intelligente tegnologie omsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bring it on ·

Nee asb nie, stuur hulle na Suid AFrika, maak net seker hulle is BRANDBESTAND.

JoeV ·

Nou hoekom? Dink die VN oorloë word nog volgens reëls gespeel?
Mens kan jou nou nie indink dat daar oorlog gaan wees tussen verskilende lande se “robotte” nie, maar dit is wat kom. VN kan maar doen wat hulle wil, die mileniëls sal nie hulle hande vuil maak met gewere nie! Hulle ken ‘n ander manier…

Ben ·

Die VN kan probeer om dit te verbied maar in die praktyk gaan dit nie gebeur nie. Landmeine is ‘n voorbeeld daarvan.
Slim het klaar sy baas gevang….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.