VN gevra om SA te besoek oor vreemdelinghaat en haatspraak

Dirk Hermann en Johan Kruger van Solidariteit by die Verenigde Nasies in Genève (11 Mei 2017) Foto: Solidariteit

Solidariteit het vandag deur middel van ʼn spesiale prosedure van die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie versoek dat ʼn span onafhanklike kundiges Solidariteit se klag oor die gevaar van handhawing van dubbele standaarde ten opsigte van rassisme ondersoek.

In die klag wat by die internasionale Menseregtekommissie ingedien is, vra Solidariteit ook dat die spesiale rapporteur oor eietydse rassisme en vreemdelingehaat, Mutuma Ruteere van Kenia, Suid-Afrika besoek om Solidariteit se bewerings te ondersoek.

Solidariteit verwys spesifiek na uitsprake deur politici soos Jacob Zuma, Julius Malema en die premier van Noordwes, Supra Mahumapelo, met die strekking dat wit mense vreemdelinge in die land is en dat alle probleme begin het toe Jan van Riebeeck in Suid-Afrika aangekom het.

“Hierdie soort uitsprake van Suid-Afrikaners is die taal wat van wit mense vreemdelinge maak en wat kan lei tot vreemdelinghaat van Suid-Afrika se eie burgers. As Julius Malema se haatspraak hierby gevoeg word, skep dit ʼn plofbare situasie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Solidariteit se versoek volg ná ʼn vergadering met verteenwoordigers van die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Menseregte wat hulle toespits op spesiale prosedures.

Die versoek vorm deel van ʼn volledige klag wat Solidariteit by die Verenigde Nasies se menseregtewaghond ingedien het. Die klag fokus op die dubbele standaarde wat deesdae ten opsigte van ras in Suid-Afrika geld.

Solidariteit se klag, wat die vorm van ʼn massaklag aanneem, fokus veral op uitsprake en/of optrede van mense wat oor vertikale invloed beskik; dit wil sê mense met gesag.

“Suid-Afrika is baie verdraagsaam teenoor rasse-uitsprake wat deur Suid-Afrikaners in gesagsposisies gemaak word, maar is totaal onverdraagsaam teenoor die rasse-uitsprake wat gewone wit Suid-Afrikaners, wat oor geen gesag beskik nie, maak,” het Hermann gesê.

In sy ontleding oor die verskynsel wys Solidariteit onder meer daarop dat die eiendomsagent Penny Sparrow se uitsprake oor swart Suid-Afrikaners 4 501 mediatrefslae gehad het, terwyl Julius Malema se uitsprake dat wit Suid-Afrikaners nie nou geslag moet word nie en dat hul vrede versteur moet word, slegs 163 trefslae gehad het.

Solidariteit toon in sy klag ook aan hoe die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aandadig is aan selektiewe rassisme wanneer dit voorvalle van rassisme moet hanteer. So byvoorbeeld het die SAMRK nog geen hoëprofiel- swart Suid-Afrikaner, soos Julius Malema, Jacob Zuma, Lulu Xingwane of enige ander ondersoek nie, maar gewone wit Suid-Afrikaners soos Penny Sparrow, Chris Hart en Justin van Vuuren is almal uit eie inisiatief deur die MRK ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

popeye ·

Forbes 500 verwys en spesifiek JZ. Die enigste rede dat iemand soos hy wat volgens Forbes een van die rykste mense in S.A is, sulke uitsprake maak, kan net spreek van ‘n intense en gewortelde haat jeens die teenoor wie hy rassistiese uitsprake maak. Dus ‘n aards-rassis (geen salf aan te smeer nie, inherent kruppel). Mense van sy finansiële statuur het geen bedreiging vanaf enige van ons plebs nie. So hoekom daai rigting gaan enigsins?

Gert ·

Mooi solidariteit baie mooi. En wat nou? Wie gaan nou iets doen? Wat gaan nou met hulle gebeur? Kom ek se julle wat. Net mooi niks. Julle moan by die mense wat tien teen een presies die soort ding wil sien gebeur…

Theo Visser ·

Ook hiervan sal dadels kom !Maar as ons nie probeer nie , sal niks gebeur nie !

Alida ·

Kom ons kyk en respekteer die mense wat wel iets doen en nie net eiers le nie.

Spikkel ·

Ons veg n verlore stryd….maar baie dankie aan die wat probeer. Ons ondersteun julle heelhartig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.