VN-komitee kap SA-regering oor apartheidsklassifikasies

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Renate Barnard geen terugvoer oor die VN-verslag. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Renate Barnard gee terugvoer oor die VN-verslag. Foto: Reint Dykema

Die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) het die regering in ’n verslag gekap oor sy gebruik van ou apartheidsklassifikasies in die aanbieding van statistieke. Die Suid-Afrikaanse regering moet ook terugvoering aan die komitee gee oor wat die impak van regstellende aksie in Suid-Afrika is en of die regering voldoen aan die vereistes van die konvensie vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie.

Dié kritiek word uitgespreek in ’n verslag van die CERD in reaksie op die regering se verslag wat in Augustus voor die komitee gedien het. Solidariteit en AfriForum het ’n skaduverslag by die komitee ingedien waarin aangevoer is dat die staat se beleid van rassekwotas nié met die konvensie strook nie.

Solidariteit het Woensdag ʼn mediakonferensie gehou om die verslag te ontleed en om sy planne vorentoe rakende regstellende aksie en die regering se toepassing van sportkwotas te bespreek.

Volgens Solidariteit het die komitee in die verslag benadruk dat ’n meer omvattende benadering tot statistieke gebruik moet word. Volgens die VN-verslag moet die regering alle toepaslike statistieke in ag neem en nie net rasse-inligting nie.

In die verslag word ook aanbeveel dat die Suid-Afrikaanse regering volledig verslag doen oor die impak van regstellende aksie op indiensname, opleiding en politieke en openbare sake.

“Indien die regering nie sy rassebenadering gaan wysig nie, kan aanbevelings tydens die 2020-sitting van die CERD gemaak word waarvolgens dit van die regering verwag kan word om ’n einde te maak aan die rasgebaseerde regstellende aksie in Suid Afrika. Die proses wat nou begin is, is ’n groot deurbraak,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. “Vir die eerste keer is regstellende aksie in Suid-Afrika nou formeel op die VN se agenda en moet die land ’n formele verduideliking vir die beleid gee.

In ’n mediaverklaring wat deur die VN-komitee na aanleiding van Suid-Afrika se verslag uitgereik is, word die volgende gemeld: “Kenners het kennis geneem van ʼn bra rigiede benadering met betrekking tot die toepassing van kwotas, wat neerkom op ʼn voorkeur vir ʼn kwantitatiewe in plaas van ʼn kwalitatiewe benadering. Die Suid-Afrikaanse regering is gemaan om te verseker dat sy beleid van regstellende aksie ooreenkom met die konvensie en die komitee se algemene aanbeveling no. 32 van 2009.”

Volgens Hermann is die kern van Solidariteit en AfriForum se vertoë dat Suid-Afrika se regstellendeaksiestelsel niks anders as ’n rassesensus is nie en dat dit nié aan die vereistes vir regstellende aksie voldoen nie.

Volgens die VN-komitee moet die regering, indien daar wel van enige rasseklassifikasieproses gebruik gemaak word, aandui waarom dit geregverdig is en waarom daar nie van ’n proses van self-identifikasie gebruik gemaak word nie.

Die komitee verwag dat die regering terugvoering moet gee aan die hand van aanbeveling no. 32 van 2009 van die konvensie wat voorskryf wat spesiale maatreëls behels en hoe dit toegepas moet word.

Die effek van die aanbeveling is dat die regering regstellende aksie (wat insluit die Wet op Diensbillikheid sowel as die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging) moet toets aan die hand van die VN-konvensie en spesifiek aan die hand van aanbeveling no. 32 van 2009.

Die belangrike beginsels van die aanbeveling waaraan die regering getoets gaan word, is of bevoordeling geregverdig is, of dit ’n legitieme doel dien en of dit proporsioneel tot die bereiking van die doel is. Spesiale maatreëls moet ook op grond van behoefte geïmplementeer word en moet billik en tydelik van aard wees.

Dit mag nie lei tot aparte regte vir onderskeie rassegroepe nie en dit mag nie lei tot ’n praktyk van apartheid nie.

“In die lig hiervan moet die VN-komitee se waarskuwing dat die regering se rasseklassifikasie op ou apartheidskategorieë gebaseer word as ’n ernstige vermaning beskou word. Die Suid-Afrikaanse regering gaan sukkel om die komitee te oortuig dat sy stelsel van rassekwotas voldoen aan die beginsels van aanbeveling no. 32 van 2009,” het Hermann gesê.

Wat die pad vorentoe betref beplan Solidariteit en AfriForum die volgende:

  1. Om deel te neem aan die konsultasieproses wat gevolg gaan word by die opstel van die Suid-Afrikaanse regering se volgende verslag;
  2. Om voort te gaan met plaaslike litigasie en internasionale klagte wat gelê is oor kwotas in sport;
  3. Om ’n internasionale kongres oor internasionale regstellendeaksiepraktyke aan te bied waaraan sprekers uit verskeie lande sal deelneem;
  4. Om die beginsels wat in die konvensie vervat is te gebruik in plaaslike litigasie;
  5. Om as ’n waghond op te tree oor die regering se toepassing van regstellende aksie en om verslag te doen oor ons [Solidariteit en AfriForum se] bevindinge aan die volgende sitting van die VN-komitee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Ed ·

Baie dankie Solidariteit en Afriforum, julle is konings. Ons sal nie ophou bid vir julle en verdraagsaamheid in RSA

JC ·

Ek kan maar net ten sterkste beaam wat Ed gese het!!
Afriforum=Konings!

Sputnik ·

‘n Pluim in die hoed vir Dirk Herman en sy span! Baie geluk en voorpoed! Mag daar nog baie sulke mense opstaan en skouer aan die wiel sit.

Aksieman ·

Baie dankie vir alles wat julle doen.
Ek hoop regtig iets kom van dit en dat die regering dit nie net aflag nie.

Sarie ·

Die wiel draai al is stadig. Geregtigheid moet seëvier. Dankie vir julle harde werk.

Arie ·

Dankie julle! Tyd dat die wêreld sien die anc is erg rassisties

Tiger ·

Knap gedaan julle!Ongelukkig gaan hierdie ras behebte anc regering hulle aan niks steur nie.Kyk maar.

jaco ·

Dis die soort goed wat solidariteit moet doen. Nie miljoene uitgee op hofsake oor taalbeleid by drie tradisioneel Afrikaanse universiteite. Aanvaar eerder en wees bly die nuwe onderrigtaal is darem ‘n algemeen verstaanbare Europese taal wat alle Afrikaanssprekende studente darem vanaf laerskooldae leer en verstaan.

Piet Snot ·

Nee, Jaco.
Ons moet die een doen, en die ander nie nalaat nie.
Dis ‘n totale oorlog.

Frikkie ·

Goeie werk sover maar waar pas julle rassekwotas by sogenaamde grondhervorming en besigheidsinstellings in by julle doelstellings?

Tienie ·

Hoe nou met die wetgewing wat nie in lyn is met die riglyne van die VN nie. Soos die nuwe BBBEE en preferential percurement. Ons kan nie 4 jaar daar aan onderworpe gestel word nie. Dit is no 1 in die vernietiging van ons ekonomie.

Jordaan ·

Sover my kennis strek is daar geen rasseklassifikasie wetgewing meer nie, dus is daar geen manier om hierdie wetgewing te implementeer nie. Indien ons almal wil aandui ons is swart of “African” is daar geen wetgewing wat hulle kanverhoed om dit te aanvaar nie?

John ·

Die volgende stap sal veel erger gevolge inhou. As alle rasse-grenslyne verdwyn sal die witmense in SA in Afrika se mengelmoesput verswelg word en die magshebbers steeds hul gang gaan, nou met VN-toestemming. Syfers oor witmense in SA sal getipex word. Wie het dan gewen? Die wereldwye mode neig juis na bloedvermenging en ‘n nuwe wereldorde met sy dodelike eindbestemming van wereldoorheersing. Is die VN ‘n magtige organisasie? Kyk wat gaan orals buite beheer aan. Sal hulle hier vrede en orde kan bring as hulle nog nooit iewers enige sukses behaal het nie. Die groot klok lui nie al is dit geinstalleer.

Johan ·

Radio nuus vanoggend kla die regering te veel wittes in boonste laag poste. Dreigemente van wets veranderings om die stempel van regstellende aksie swaarder af te druk op die groep . Hoop die VN bly by hulle beloftes net bang hulle sal die kant van n huilende regering oor “350 jaar van apartheid” vat

neelsie ·

Afriforum/solidariteit se betroubaarheid staan bo verdenking.
Baie dankie ,ons waardeer julle insette.

Jan maak n Plan ·

Ek darem bly daar is instansies soos Solidariteit en Agriforum wat bereid is om die regering aan te vat en hulle doen vreeslikke goeie werk. Wat die kwesie oor om die regering by die VN te verkla, glo ek nie dat die ANC regering hulle baie daaraan sal steur nie want hulle stuur hulleself dan nie eens aan die regstelsel in SA nie.

Grootseun ·

Knap gedaan manne en dames. Dit lyk egter of Europa hulleself nie eers kan help nie, maar julle doen goeie werk.

Chris ·

Dankie vir almal se harde werk,
Ek kan nie sien dat die regering hulle aan die VN gaan steur nie,
Al wat die regering gaan doen is om te ontrek by VN

Loeis ·

Die ANC het dit onlangs duidelik gemaak dat geld in rade wat deur die ANC beheer word, hoofsaaklik in die swart gebiede gespandeer word. Ons het ook onlangs minuspale verkiesings gehad.

Indien enige van die rade wat geswaai is dieselfde sou doen, sit ons steeds met ‘n rasgedrewe sisteem waar ons geld in ander gemeenskappe gebruik word, en ons geen se daaroor het nie. ‘n Klomp mense was baie bly oor die uitslae na die verkiesing. Hou nou julle rade verantwoordelik.

Zet ·

Dit wil blyk, uit die artikel, of as die VN hul sin kry statestieke oor, onder andere; moorde en aanvalle op Boere en Afrikaners, nie meer ingevorder sal word nie. Met ander woorde, die Boere en Afrikaners sal dan uitgemoor, uitgewis en van die oppervlak van die aarde afgevee word, sonder enige konsekwensies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.