VN-resolusie oor Rusland: Daarom bly SA buite stemming

Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) het oorweldigend ten gunste van die mosie gestem.

Die Verenigde Nasies (VN) se resolusie oor die Rusland-Oekraïne-konflik skep nie ʼn omgewing wat bevorderlik is vir diplomasie, dialoog en bemiddeling nie.

Dít is volgens die departement van internasionale betrekkinge en samewerking die rede hoekom Suid-Afrika een van 35 lidlande van die Algemene Vergadering van die VN was wat buite stemming gebly het oor die resolusie waarin Rusland veroordeel is vir sy inval van Oekraïne en daar geëis is dat hy sy magte onttrek.

141 lande het ten gunste van die resolusie gestem en vyf daarteen.

“Ons standpunt, soos uitgespreek tydens die spesiale noodsessie van die Algemene Vergadering, is dat Suid-Afrika diep bekommerd bly oor die verskerping van die konflik in Oekraïne en die streeks- en internasionale sosio-ekonomiese gevolge,” het Mathu Joyini, Suid-Afrika se verteenwoordiger by die VN, gesê.

“Ons doen ʼn sterk beroep op alle kante om internasionale reg te handhaaf, waaronder humanitêre reg en menseregte, asook die beginsels van die VN-handves, waaronder soewereiniteit en territoriale integriteit.”

Joyini meen die VN moet besluite neem en stappe doen wat sal lei tot ʼn opbouende uitkoms wat bevorderlik is vir die skepping van volhoubare vrede tussen die partye. “Hoewel ons saamstem met en die pogings ondersteun wat deur lidlande aangewend is om die situasie in Oekraïne onder die aandag van die internasionale gemeenskap te bring, voel Suid-Afrika dat groter aandag daaraan gegee moes word om die teenpole nader aan dialoog te bring.

“Vir Suid-Afrika kan die teks [van die resolusie] in sy huidige vorm ʼn dieper wig tussen die partye dryf eerder as om by te dra tot ʼn oplossing van die konflik.”

Die resolusie moes die aanvang van onderhandelinge tussen die partye verwelkom het, sê Joyini.

“Suid-Afrika sou ook ʼn oop en deursigtige proses verkies het om oor die resolusie te onderhandel. Dit sou ons almal, as gelyke lede van die Algemene Vergadering, toegelaat het om ons standpunte oor te dra en ideaal gesproke ʼn vlak van begrip te bereik voordat die teks ter tafel gelê is.”

André Groenewald, Suid-Afrikaanse ambassadeur in Oekraïne, het Woensdag landuit gevlug onderwyl Russiese magte op pad na Kiëf was.

Talle Suid-Afrikaners is tans nog in Oekraïne vasgekeer, onder andere studente wat die Suid-Afrikaanse regering na dié land gestuur het om medies te gaan studeer.

Daar rus ʼn plig op die Suid-Afrikaanse regering om dié mense by te staan, het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

“Alle Suid-Afrikaners in dié oorloggeteisterde land moet so gou moontlik gehelp word om Oekraïne te verlaat en terug te keer na Suid-Afrika. Daar is tans talle bewerings oor die benarde situasie van die studente, onder meer dat van hulle gestrand sit sonder kos en ander noodsaaklike lewensmiddele.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

52 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Natuurlik, want die President en sy ANC Kader kan nie in hul/ ons land die verskerping van die konflik,moord, vernietiging en rassehaat onder bedwang bring nie want dit word dan aangevuur deur hulself.

casper

Ja — Buddy Rusland ne!!
Hoekom vlug die SA ambassade personeel uit die land uit??
Hulle moet mos nou bly en hulle buddies ondersteun om die Uraine te beset ??????

Manda

Ek het ophou lees by ‘oop en deursigtig’ – dis weereens duidelik uit die Zondo-kommissie se doen en late net hoe ‘oop en deursigtig’ dié land se regering verkies dat dinge gebeur…

marius

Maar julle kan gil oor Israel . Vlieg !

minnie muis

humanitêre reg en menseregte, asook die beginsels van die VN-handves, ? en my reg as wit in sa ?