Vodacom-data binnekort veel goedkoper

Foto: vodacom.com

Die diensverskaffer Vodacom het Dinsdag ’n ooreenkoms met die Mededingingskommissie gesluit om eersdaags sy prys van data met meer as 30% te verminder. Dié aansienlik laer pryse sal op 1 April in werking tree.

Vodacom het ingestem tot ʼn meerjarige vermindering van sy maandelikse databondels. Dit beteken dat ʼn maandelikse databondel van 1 GB voortaan slegs R99 sal kos vergeleke met sy oorspronklike prys van R149. Dié prys is met 34% verlaag.

Tembinkosi Bonakele, hoof van die Mededingingskommissie, sê gebruikers wat die kleinste bondels data koop en waarskynlik die armste van kliënte is, is diegene wat die meeste by die ooreenkoms sal baat.

Volgens Bonakele sal Vodacom ʼn verskeidenheid dienste op een platform, bekend as ConnectU, beskikbaar stel. Dit behels dat kliënte aansoek sal kan doen om die portale van alle openbare universiteite, kolleges en skole te besoek – dít sonder enige data.

(Argieffoto: Pixabay.com)

Kliënte sal voortaan sonder die gebruik van data aansoek om werk kan doen op sewe Suid-Afrikaanse portale waarop werksgeleenthede geadverteer word. Die ooreenkoms sluit ook gratis toegang tot verskeie staatswebwerwe, Facebook Flex en die aanlyn soekfunksie Wikipedia in.

Vodacom sal voortaan strenger maatreëls instel wat kinders teen onwettige en onvanpaste inhoud op die web beskerm, asook meer deursigtig omgaan met promosies.

Maroela Media het vroeër berig die Mededingingskommissie het die diensverskaffers Vodacom en MTN in Desember opdrag gegee om hul dataprys met tot 50% te verminder. Die kommissie het sy langverwagte verslag oor die hoë koste van data verlede jaar bekend gemaak nadat hy in Augustus 2017 met ʼn ondersoek daarna begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Corne123 ·

Dit nogal goeie nuus maar nogsteeds skrikwekkend om te sien hoe lank hulle ons uitgebyt hier

BoerSonderRoer ·

Ek betaal in Europa 5 euro vir 30 Gig en 2000 plaaslike minute by Vodafone / Vodacom.

Cherokee ·

Dié aansienlik laer pryse sal op 1 April in werking tree.
Moet net nie op die 1ste April sê ‘ha hahee he he… April Fool’ nie.

RS ·

Dit is ‘n stap in die regte rigting, maar steeds is SA se pryse vir data ver te hoog vergeleke met die res van die wêreld se gemiddelde prys.

Niné ·

Waar is die 50% dataprys vermindering? Hulle buit ons nog steeds uit ivm ander Afrika lande, nie eens te praat van oorsee nie. Ek is so moeg vir almal wat my sakke so ruk van die vrot regering tot die supermarkte. Jy noem dit en jan allerman moet hoes en hoes!

Tienie ·

Jammer Vodacom. Ek het so pas my tas gepak en na Cell C verhuis.

Dit lyk my julle is nogsteeds baie duur na die prys verlaging.

Ek het ook my nommer behou.

Jan ·

Die hele besigheid is nog steeds ‘n scam. Jy koop data maar dan is dit ‘n tyd periode gekoppel. Ek het bv nou net 1G vir R99 gekoop, maar dis net vir 30 dae. Dit wat jy nie gebruik nie verval en jy moet weer koop. Hulle loop mense mos in so. Dis so goed Checkers kom na 30 dae by jou huis aan en vat al die groceries wat jy nog nie gebruik het nie terug. Mens betaal mos vir dit, jy moet mos dan geregtig wees om alles te gebruik wat jy voor betaal het.

Anel ·

Jan, ek stem 100% saam. Dit wat ek nie gebruik het nie verval. Dit kom neer op diefstal. Ek het betaal vir iets wat hulle net weer terug vat.

jzjz05 ·

Jy is reg daar is geen verlaaging nie of kan hulle vir ons dit mooi uit een sit die ou prys teen oor die nuwe prys.ons sal glo as ons dit op papier sien .

Jo-Anne ·

Ek was n paar jaar terug in Thailand. Het 300 Bht betaal elke maand vir 30 dae unlimited data vir foon en 600 bht vir rekenaar. Daai jare was dit 3 bht vir R1.

Simon ·

Soos met enige tarief vir ‘n diens wat deur enige instansie gelewer word, wonder ek altyd hoe ‘n spesifieke tarief bereken word. As mens hulle sou vra om deursigtig te wees met die berekening van ‘n tarief, sal hulle dalk nie wil se nie of hulle sal allerhande komponente inwerk wat misleidend is net om hul winsgrens te verbloem. Ek dink tariewe in die algemeen is tot ‘n groot mate maar net ‘n duim suigery en so ver as die Ooste van die Weste verwyder van ‘n motiveerbare wetenskaplike oefening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.