Vodacom, MTN moet prys van data met tot helfte sny

Foto: vodacom.com

Die Mededingingskommissie het die diensverskaffers Vodacom en MTN opdrag gegee om hul prys van data met tot 50% goedkoper te maak.

Die kommissie het Maandag sy langverwagte verslag bekend gemaak oor die hoë koste van data nadat hy in Augustus 2017 met ʼn ondersoek in dié verband begin het.

Vodacom en MTN is beveel om ʼn ooreenkoms met die kommissie aan te gaan waarvolgens hulle die prys van data met tussen 30% en 50% moet sny.

Al die diensverskaffers moet ook ʼn ooreenkoms met die kommissie aangaan waarvolgens ʼn bepaalde hoeveelheid data gratis aan al hul kliënte gebied word.

Volgens die kommissie was daar genoeg bewyse om te bevestig dat Suid-Afrika se datapryse te hoog is. Daar is onder meer vergelykings gedoen met die pryse wat Vodacom en MTN in ander Afrika-markte vra en dit het gewys dat pryse in Suid-Afrika veel hoër is as in ander lande.

Prysstrukture is anti-arm en is nie deursigtig nie. Die kommissie het ook bevind ook dat die groter rolspelers aktief besig is met uitbuiting om marges en pryse te verhoog.

Argieffoto

Volgens die kommissie is prysgebaseerde mededinging in die markte onvoldoende en kan Cell C en Telkom Mobile nie teen Vodacom en MTN meeding nie.

Die kommissie sal nou met die diensverskaffers in gesprek tree om datapryse oor die volgende twee maande te verlaag.

Volgens die kommissie sal die diensverskaffers ingevolge die Mededingingswet vervolg word indien die gesprekke nie tot laer pryse vir verbruikers lei nie.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het gesê die kommissie se bevindinge is verreikend. Die minister sal die finale verslag binne die volgende twee weke in die parlement ter tafel lê.

Vodacom het in reaksie op die verslag gesê dat hy sedert Maart 2016 die prys van data met effektief 50% verlaag het. Die diensverskaffer het gesê hy sal die verslag verder bestudeer en met die kommissie daaroor in gesprek tree.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Julius

Nee wat al wat hulle doen is om die helfte van die data nagtyd te maak soos hulle tans doen van middernag tot vroeg oggend. Hulle bly steeds die mense indoen.

Kolle

Nes jy daar sê Julius. Hulle sal mens maar net op ‘n ander manier weer roof ás hulle sou pryse verlaag. Die winsgrense is net te aanloklik in Afrika, waarskynlik oor hulle dink almal hier is onnosel…

Swannie

Raai watter persentasie Vodacom gaan gebruik om data pryse te sny ?
Beslis nie 50% nie – eerder 30%.
Die Night Owl Data beteken niks aangesien aflaaispoed geweldig daal en baie keer geen internet verbinding nie.

Pensioenaris

Hulle moet stop om data te laat verval. Jy koop data en as daar nog oor is na n maand verval dit.

Nannie

@Julius ek stem saam met jou. Wie gesels nou net tussen 12:00 en 05:00? Kinders moet data he om hulle projekte te doen van die skool. En Vodacom is die laaste ruk baie duur met hul data.