Voedselekonomie moet herbou word; dié keer volhoubaar

(Foto: Pixabay)

Volhoubare oplossings en inisiatiewe is nodig om die voedselekonomie in Suid-Afrika te herbou, het die maatskappy PricewaterhouseCoopers (PwC) Dinsdag gesê.

Die land is tans, nes die res van die wêreld, in ʼn voedselkrisis gedompel. Die krisis word onder meer aan die Covid-19-pandemie en die konflik tussen Rusland en Oekraïne, wat die volhoubaarheid van globale voedselproduksie op lang termyn bedreig, toegeskryf.

PwC sê in die lig hiervan, moet daar ʼn verskerpte fokus op volhoubaarheid wees wanneer strategieë ontwikkel en ter tafel gelê word; dit sluit in groener boerderypraktyke, die gebruik van landboutegnologie en die instelling van omgewingsvereistes.

“Die wêreld moet voedselsekerheid en -bekostigbaarheid nou as kritieke kwessies vir globale welvaart en welstand hanteer,” het Adrew Dale, sekerheidsvennoot by PwC Afrika, gesê.

“Net soos landbou ’n sleutelbousteen in die post-Tweede Wêreldoorlog-era was, moet ons voedselekonomie weer herbou word. Dié keer moet dit volhoubaar gedoen word.”

Volgens Dale is daar gelukkig reeds ʼn positiewe verskuiwing oor die voedselproduksiewaardeketting heen te sien, met produsente en hul vennote wat volhoubaarheidsbekommernisse al meer verstaan en besef, en dan nuwe landboupraktyke nastreef.

PwC kyk in sy verslag “The sustainable food revolution: Future-proofing the world’s food supply” na verskeie maniere om voedselsekerheid in die toekoms te verseker sonder om pryse drasties te verhoog.

Dié maniere sluit in die beperking van voedselverliese in die voorsieningsketting, groener en skoner maniere om kos te produseer en kosplaasvervangings op verbruikersvlak.

In ʼn Afrika-gefokusde blog delf die maatskappy nog dieper in dié kategorieë deur na organiese boerderypraktyke te kyk, asook die gebruik van landboutegnologie, die vermindering van voedselverliese, regulatiewe veranderinge en die instelling van omgewingsvereistes.

Organiese boerdery

PwC glo organiese boerderypraktyke kan winsgewendheid verhoog terwyl dit arbeidsintensiwiteit verlaag.

“ʼn Onlangse akademiese studie oor die prestasie van 55 oeste op vyf kontinente het gewys dat, ondanks hoë arbeidskoste en laer opbrengs, organiese boerdery tot 35% meer winsgewend is as konvensionele hoogs intensiewe boerdery vanweë die premie wat op organiese produkte geplaas word,” lui die blog.

Landboutegnologie

Landboutegnologie, soos kunsmatige intelligensie, sal ook toenemend ʼn belangrike ondersteuningsrol speel en boere toelaat om meer presies te werk te gaan en produktiwiteit te verhoog.

Beperk voedselverliese

PwC sê verder dat voedselverliese, veral in die verspreiding- en kleinhandelsproses, beperk en verhoed moet word, waar die meeste van dié verliese plaasvind.

Nqaba Ndiweni, PwC Afrika se leier oor bedryfsprodukte en -dienste, sê een van die maniere hoe dit gedoen kan word, is meer deursigtige waardekettings, aangesien gemeenskappe al meer aandring op betroubare inligting oor waar hul kos vandaan kom.

“Verbruikers wil ook weet wat voedselprodusente se etiese en volhoubaarheidspraktyke is, wat die vertroue tussen ʼn produsent en verbruiker beïnvloed. Sonder vertroue kan rolspelers in die bedryf dalk sukkel om ʼn onwrikbare reputasie in die mark te vestig, tesame met ʼn lojale en volhoubare kliëntebasis.”

Regulatiewe verandering

Volgens die maatskappy is regulatiewe verandering, soos verslagdoening oor volhoubaarheid, ook nodig, omdat dit die struktuur en kostebasis van voedselproduksie sal verander.

Regulasies is ook al hoe belangriker vir verbruikers en beleggers. Dit sluit in dierewelstandstandaarde en die gebruik van groener produkte in die produksieproses.

Omgewing-, sosiale en regeringsvereistes

Die verskerping van omgewing-, sosiale en regeringsvereistes speel ook toenemend ʼn rol, aldus PwC.

Vereiste verslagdoening oor dié vereistes en verskeie groenteikens sal voedselmaatskappye al meer raak, terwyl die voldoening daaraan toenemend ʼn rol in die vooruitgang van sodanige maatskappye sal speel.

Verandering onvermydelik

PwC sê die krisis is só groot, dat verandering onafwendbaar is.

Dit laat die voedselbedryf en verwante rolspelers met ʼn keuse: Neem nou inisiatief om verandering aan te bring, of wag totdat eksterne druk verandering noop.

“Die voedselbedryf moet ʼn komplekse landskap kan optimaliseer, en dit sluit in verkryging, produksie en bewaring. Vervoer en verbruik, asook verskuiwende verwagtinge oor omgewing- en sosiale geregtigheid,” het Lullu Krugel, PwC Afrika se volhoubaarheidsleier, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marieta ·

Kyk bietjie beter na ons boere. Plaasmoorde, brandstof verhogings en belastings, maak dat dit al hoe moeiliker vir ons boere raak om volhoubaar te boer.

Nommer 7 ·

Ek verstaan nie, 49% van SA landbouprodukte word uitgevoer, en ons het genoeg voedsel. Produsente kans dus 49% minder produseer sonder dat voedselsekuriteit geraak sal word. Hierby is bykans alle ingevoerde voedsel goedkoper, ondanks aksynsbelasting op ingevoerde voedsel! Betaal ons dalk te veel vir voedsel om boere op plase te hou?

Nommer 7 ·

@ Marieta, die ANC regering hef invoerbelasing op voedsel invoere. Dit op sigself is die enkele beste ding wat die regering vir produsente kan doen om volhoubaar te kan boer. Skaf hierdie invoerbelasting af, en min boere dal volhoubaar kan boer!

Henry ·

@Nommer 7 Genade dis ‘n veralgemening! Boere kompeteer plaaslik met Suid-Afrikaanse insetkostes: alle onderdele en trekkers sowel as die meeste implemente, olies en landbouchemikalieë word ingevoer – en dieselfde belastings word daarop gehef. In enkele markte is ons hoofsaaklik uitvoerders: sitrus, druiwe, bessies ens, maar in die meeste GRAAN markte breek ons in- en uitvoere gelyk. Ons olies, mielies en meeste van ons vleis word plaaslik gebruik, of so nie voer ons na Afrika uit. Om jou dan verder in te lig: die brandstofprys (as voorbeeld, maar chemikalië, elektrisiteit, arbeid en kunsmis het dieselfde trant gevolg) het oor die laaste tien jaar met 70% gestyg. In dieselfde tydperk het ons dieselrebat gekrimp omdat die staat voel ons eis meer brandstof as wat ons gebruik(ons doen nie!), terwyl die gemiddelde mielie pryse met 13% gestyg het. Wat die pryse in die winkels maak is NIE en ek herhaal NIE dieselfde as wat die graan/vleis pryse maak NIE.

Piet parys ·

Nommer 7 jy sal moet mooi dink waarvoor jy wens . Indien enige land se boere tot niet is is dit n resep vir uitbuiting deur ander lande en dit beteken daar sal nie meer voedsel soos nou beskikbaar wees nie . As jy nou duur voedsel koop gaan vra jou grootwinkelsentrums wat tussen 30 en 100% meer vra as wat hulle betaal en die verbruiker netaal net en blameer boere…WAKKER WORD!!!!!!!

Nommer 7 ·

@Piet parys, bestudeer PnP (en ander) se jaarverslae, hulle winste is slegs tussen 2% tot 3% van omset, daarom kos hul plaaslik geproduseerde olyfolie R300 p/l, terwyl dieselfde olyfolie vanuit Spanje en Griekeland R150 tot R180 p/l plaaslik kos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.