Voedselinflasie kan daal, sê Agri SA

Argieffoto (Foto: pinterest.com)

Argieffoto (Foto: pinterest.com)

Verbruikers kan uitsien na ʼn verlangsaming en selfs afname in voedselprysinflasie, volgens Agri SA.

“In November vanjaar was voedselprysinflasie nog 6.5%, maar die produsenteprysindeks vir landbou, bosbou en visserye was 2.3%,” het Johannes Möller, president van Agri SA, in ʼn verklaring gesê. “Die verskil behoort binne ʼn paar maande ʼn dalende invloed op voedselprysinflasie te hê.” Volgens Möller is een van die redes hiervoor die afname in die brandstofprys. “Uitgawes aan brandstof beloop 14% van landbou se intermediêre uitgawes en aanduidings is dat onlangse en verdere prysverlagings hierdie koste-komponent kan verklein. Die res van die voedselwaardeketting het egter ook ’n bydrae te lewer om die koste-voordeel aan verbruikers deur te gee.”

Volgens die DuPont-verslag is Suid-Afrika die Afrikaland met die hoogste vlak van voedselsekerheid. In dié maatskappy se 2014 globale voedselsekerheidsindeks vergelyk Suid-Afrika se 61.1 punte goed met die van sy BRICS-vennote. Indië staan op 48.3 punte, China op 62.2, Rusland op 62.7 en die voedselreus Brasilië op 68.1. Die meeste Afrikalande behaal op die indeks tussen 30 en 40 punte. Ontwikkelde nywerheidslande gee die toon aan met meer as 80 punte. Om sekerheid oor genoeg en voedsame kos te hê is ‘n groot bate vir enige land, meer so vir ʼn diverse samelewing soos dié van Suid-Afrika.

“Die plaaslike landbou is ook ʼn suksesvolle mededinger in uitvoermarkte,” het Möller bygevoeg. “In 2013 is R72.5 miljard se landbouprodukte uitgevoer wat R15.2 miljard meer is as landbou-invoere. Met gunstige produksie-omstandighede en die swakker Rand kan hierdie vermoë en prestasie van die bedryf in 2014 en 2015 verder verbeter. Die reënseisoen was tot op hede oorwegend gunstig vir akkerbouproduksie. Besproeiingsboerdery, wat 25% tot die waarde van landbouproduksie bydra, het ook goeie vooruitsigte. Damme is landswyd gemiddeld 80% vol en in van die groter stelsels is die situasie selfs meer gunstig.”

Hy het gesê voortgesette investering is seker die beste waarborg vir volgehoue voedselsekuriteit en volhoubare mededingende produksie. “Terwyl daar uitdagings is wat die bedryf moet oorkom om sy mededingendheid te handhaaf en terselfdertyd groter bydraes tot transformasie en die maatskaplike opheffing van werkers en hulle gesinne te lewer, is daar vertroue in die toekoms van die bedryf,” het Möller verduidelik. “Dit blyk onder andere uit die toename van 8.4% in die waarde van belegging in landbou die afgelope jaar, gerugsteun deur ʼn 10.1% toename in die waarde van grond en verbeterings en 9.9% in dié van masjinerie, implemente en voertuie. Dis ʼn positiewe tendens waarop daar voortgebou moet word om Suid-Afrika ʼn nog beter land vir al sy mense te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Verbruikers koop oor die algemeen voedsel aan wat verwerk is, wat dit weer onderhewig maak aan elektrisiteit en arbeids inflasie, dit sal weer bogenoemde uitkanseleer.

Francois ·

As dit gebeur, sê my met WAAR ek moet gaan koop, want ek glo nie ‘n word van hierdie nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.