Voedselinflasie plat verder af, maar net tydelik

Die gesonde voedselinflasiekoers gaan heel moontlik volgende jaar slegter lyk. (Argieffoto)

Nadat voedselprysinflasie in Augustus ʼn hoogtepunt van 7,4% op ʼn jaargrondslag bereik het, het dit tot 6,0% in November verder afgeplat van die 6,7% wat in Oktober bereken is.

Volgens Agbiz het die laer pryse vir produkte soos vleis, vrugte, groente, brood en ander graanprodukte hierdie daling teweeg gebring.

Vir die eerste 11 maande was die verbruikersvoedselprysinflasie gemiddeld 6,5%, wat aansienlik hoër is as verlede jaar se 4,6% jaar op jaar. Die primêre drywers van die toename vanjaar was die hoë pryse vir groente-olies en vleis.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê terwyl hy verwag dat voedselinflasie in 2022 verder sal afneem, dink hy ​​nie dat dit betekenisvol sal wees nie. “Vleispryse, wat ietwat in November saam met olies en vette afgeneem het, sal waarskynlik geruime tyd op redelike hoër vlakke bly en sodoende verhoed dat die potensiële afname in verskeie produkte soos brood, ander graanprodukte en groente, die inflasiesyfer beter sal laat lyk.

“Byvoorbeeld, die slag van beeste bly op relatief laer vlakke, in vergelyking met dié van verlede jaar en dit kan ʼn ligte opwaartse druk vir vleisprysinflasie in die nabye toekoms beteken.”

Hy sê in September vanjaar is 3% minder beeste op ʼn jaargrondslag geslag, met 212 750 stuks wat slagpale toe gestuur is.

“Veeboere is steeds besig om hul kuddes sedert die 2015-’16‑droogte te herbou en boonop het die uitstekende gewasopbrengste in die 2020-‘21-seisoen dalk gehelp om vir sommige gediversifiseerde boere ʼn blaaskans te gee om eerder hul kuddes te herbou, as om meer vleis aan die binnelandse mark te verkoop.”

Die aanvraag tydens die feesgety kan ook tot die opwaartse druk in vleispryse bydra.

ʼn Verder rooi lig vir inflasie is dat Suid-Afrika ʼn netto invoerder van plantaardige olies en vette is. Hierdie produkte se pryse is onderhewig aan die opwaartse beweging van die wêreldmark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
msp

Danksy die anc/eff wat vroeër die land vernietig het toe hulle Mall’s en kosbare besigheidssentrums afgebrand het. Daarna was zuma ń vry krimineel. Lyk of die volgende weer homself gaan herhaal as zuma weer opgesluit moet word.

Ilena

Hou op ingevoerde plantaardige olie koop en eet botter en beesvet op jou brood.