Voedselkenner van Orania se werk internasionaal gepubliseer

Anelle is ’n hortoloog uit Orania. (Foto: Verskaf)

Anelle Blanckenberg, ʼn hortoloog van Orania, het onlangs uit Switserland gehoor dat die eerste van ʼn reeks wetenskaplike artikels oor haar doktorale navorsing internasionaal gepubliseer is.

Blanckenberg is tans besig met haar doktorsgraad in dié rigting aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Die US beskryf hortologie as die wetenskap, tegnologie en onderneming van intensiewe plantkweking vir menslike gebruik, van kleinskaalse groentetuine tot die aktiwiteite van ʼn multinasionale korporasie. Navorsing in dié veld fokus dikwels op die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne om ʼn voedsame produk teen die laags moontlike koste en met die minste vermorsing te lewer.

As hortoloog spesialiseer Blanckenberg in vrugtebome, tafeldruiwe, olyfbome en neutbome. As deel van haar doktorale navorsing het sy by vier gevestigde wingerdboerderye in die Wes-Kaap gaan kyk hoeveel tafeldruiwe tydens oestyd vermors of verlore gaan.

Sy beskryf dit as ʼn lekker morsige werk, omdat sy self deur talle trosse en los korrels moes sif. “Ek was werklik geskok om te sien hoeveel los korrels, wat mooi gekleur en heeltemal eetbaar was, vermors word. By een plaas het tot 24% van die druiwe verlore gegaan. As jy ʼn kwart van jou oes verloor nog voordat dit van die plaas af is, dan is daar fout.”

Anelle en haar man. (Foto: Verskaf)

Haar werk het egter vrug (oftewel druiwe) afgewerp. ʼn Jaar nadat sy terugvoer en voorstelle aan die plase oor haar navorsing gegee het, het hul oesverliese byna gehalveer.

Haar eerste artikel oor dié navorsing is in die Volhoubaarheid-joernaal, ʼn internasionale eweknie-geëvalueerde joernaal, wat handel oor omgewings-, kulturele, ekonomiese en maatskaplike volhoubaarheid van mense, gepubliseer.

As wetenskaplike artikel is dit beoordeel deur ʼn paneel van drie ander senior kenners in die veld. Sy het van al drie baie positiewe terugvoer gekry wat haar baanbrekerswerk as “baie goed geskryf, werklik relevant en ʼn belangrike nuwe bydrae tot die veld” beskryf het. Dit volg ook op die Staatshoofdeprys van die Afrika-unie wat sy vir haar navorsing gewen het.

Tonne voedsel wêreldwyd verlore

Luidens ʼn Suid-Afrikaanse nasionale opname vir gesondheid en voeding gaan byna ʼn kwart van Suid-Afrikaners elke aand honger bed toe. Die Wêreld-Natuurfonds (WWF) skat dat sowat 10 miljoen ton van die 30 miljoen ton voedsel wat jaarliks ​​in Suid-Afrika geproduseer word, tot niet gaan.

Navorsing dui ook daarop dat naoesverliese meer as 60% van alle voedselverliese in ontwikkelende lande verteenwoordig. Slegs 5% van die vermorste voedsel kan egter aan verbruikers toegeskryf word, terwyl die ander 95% moontlik tydens oes, verpakking, produsering en vervoer verlore gaan.

Van Stellenbosch na Orania

AfriForum se sitrusprojek. (Foto: Verskaf)

Blanckenberg is gebore en getoë in Stellenbosch in die Wes-Kaap, maar ná ʼn vakansie in Orania twee jaar gelede het sy en haar man besluit om dit hul nuwe tuiste te maak. “Ons het gekom vir ʼn vakansie en moes net twee weke bly. Toe word dit drie en naderhand vier weke en toe wou ons nooit weer teruggaan Stellenbosch toe nie.”

Volgens haar kan Orania se reeds suksesvolle landbou-inisiatiewe net nóg groei en verder uitgebou word. AfriForum is tans besig met ʼn sitrusprojek en rig ook groentetonnels in Orania op vir die organisasie se boer-tot-bord-projek. Dié projek is begin om ʼn produksielyn te skep wat strek van die vars produk (wat direk van die boer verkry word) tot op die einde waar dit afgelewer word by families wat hulp nodig het. Alle produkte en dienste is daarop gemik om Afrikaners te ondersteun deur werk te verseker, inkomste te genereer en werk te skep.

  • Hierdie berig is met die vergunning van Forumnuus geplaas. Lees die oorspronklike artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

Orania is net die plek ,so bring ons maar weer nuwe uitvindings na vore.

S'kgaapie

Baie Geluk vir jou! Jy help baie baie baie mense.

Pieter

Is daar nie plek vir al ons blankes nie

JohanR

Ai die slim Afrikaners darem!

Realis Thailand

Ek het n ruk gelede baie teensinnig n twee dae in Orania deurgebring en het dit heel interressant gevind.
Behalwe vir die streng Christelike beginsels sou ek makik daar kon bly
Die mense is eerlike en opreg en is hardwerkend e ndasar is rus en vrede