Voedselverbruikers gaan hoes weens duurder landbou-insette

Die prysverhogings in landbou-insette gaan deur die waardeketting gevoel word tot by die verbruiker. (Foto: Maroela Media)

Die stewige styging in die prys van diesel van R1,48 is nie die enigste verhoging wat soos ʼn swaard oor boere se koppe hang nie. Kunsmispryse het ook rekordhoogtes bereik en saad het heelwat duurder geword.

Alle aanduidings is daar dat hierdie prysstygings noodwendig deur die waardekettings beweeg en laastens druk op die voedselverbruiker plaas.

In ʼn verslag wat TLU SA saamgestel het, sê die landbou-unie reusestygings in die prys van voedsel het nie veel te make met die Covid-19 pandemie nie, maar eerder met die hoë pryse van brandstof en kunsmis.

Maroela Media het vroeër berig dat die komponentpryse vir kunsmis soos stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) oor veral die afgelope paar maande skerp toegeneem het.

TLU SA sê die invoer van chemikalieë is ’n verdere probleem. Daar is ’n tekort aan bemestingprodukte wat produksie verder negatief beïnvloed. Dan moet die regering ook besin oor die vasstelling van minimumlone. “Arbeidskoste, veral in landbou, word onbekostigbaar as daar na die winsgrens en insetkoste gekyk word.”

In ʼn onlangse verslag van Graan SA word die toename in insetkoste vir mielieboere  deeglik uiteengesit. Dit is veral die prys van kunsmis wat ’n groot rol speel, aangesien hierdie komponent sowat 30% tot 35% van ’n mielieboer se veranderlike produksiekoste uitmaak.

Die prys van sade het ook toegeneem. Volgens Graan SA se berekeninge het mieliesaadpryse vir van die gewildste kultivars met gemiddeld 5,6% sedert verlede jaar gestyg, terwyl die gemiddeld van al die mieliekultivars ongeveer 3,3% gestyg het.

Sonneblomsaadpryse het op ’n gemiddelde basis met 3,7% gestyg, terwyl sojaboonsaadpryse met 2,6% toegeneem het.

Graan SA verwag dat die totale veranderlike koste van mielies ’n gemiddelde styging van tussen 20% tot 28% jaar op jaar sal hê.

Beraamde produksiekoste vir die 2021-’22-produksieseisoen vir mielieboere in die Oos-Vrystaat is R13 998 per hektaar en in Noordwes is dit R13 109.

Inligting wat deur Aartappels Suid-Afrika verskaf is, wys dat vier van die agt streke wat aartappels voorsien, teen ’n verlies werk.

“Die produksiekoste vir aartappelboere per hektaar vir die 2020-’21-seisoen wissel tussen R112 000 en R333 000. Ná al die insetkoste in berekening gebring is, maak boere tans gemiddeld R2,24 wins op ’n 10 kg-sakkie aartappels,” sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA sê die regering moet dringend die sakeklimaat in Suid-Afrika verander sodat beleggers nie afgeskrik word nie. (Foto: Maroela Media)

“As daar na vooruitskattings gekyk word, is aartappelboere van mening dat hulle insetkoste met gemiddeld 30% sal styg, wat vanselfsprekend ’n invloed sal hê op die winsgewendheid van die produk sowel as die prys op die mark.”

Van Julie tot September vanjaar het ʼn aartappelboer tussen R50 en R62 vir 10 kg gekry. Einde Oktober het die prys vir 10 kg op die Johannesburg-mark tussen R46 (mediumgrootte) en R55 (groot) gewissel. Landwyd is die prys tussen R58 en R48.

Die afgelope vier tot vyf maande is die prys van ’n koolkop sowat R8 en sakke (ongeveer 27 kg) met tot 10 koppe per sak, kos gemiddeld R55.

Botterskorsies kos R20 vir ʼn 7 kg‑sak.

“Dit wil voorkom asof elke departement of semi-staatsinstelling op hul eie voortstu om moontlik vasgestelde teikens te haal en geensins die impak op die groter prentjie besef nie. Die departement van landbou moet dalk vereis dat geen ander departement enige verhoging van enige aard, wat ʼn invloed op landbou het, mag indien alvorens landbou nie die bekostigbaarheid geëvalueer het nie,” sê Van Zyl.

Op ʼn vraag van Maroela Media wat TLU SA gaan doen om hierdie verhogings te mitigeer, sê Van Zyl dat hulle ʼn skrywe aan die ministers van minerale en energiesake, finansies en landbou gaan rig om aan hulle ʼn kollektiewe konteks te gee oor die penarie waarin boere tans sit. “Boere kan nou net met geloof verder boer, want die berekeninge om wins te maak werk nie meer uit nie.

“Ons vra ook dat die regering ernstig na hulle mediumtermyn- en langtermynbeleid moet kyk om ʼn klimaat te skep om beleggings te stimuleer. Tans jaag hulle entrepreneurs die land uit.”

Hy sê dit is skrikwekkend hoeveel insette reeds ingevoer word. “Ongeveer 80% van alle kunsmis kom van elders en feitlik alle chemikalieë word ingevoer. Uit die aard van die saak word ru-olie ingevoer, maar [ten spyte van al ons bestaande raffinaderye] word daar nou geraffineerde diesel ook ingevoer.”

“Indien die regering nie daadwerklik ingryp en die Eskom-uitdaging takel nie, is dit ’n verdere invloed wat produksie kan kniehalter. Waar daar nie voldoende kragvoorsiening is om lande te besproei nie, is die gevolg permanente skade op die opbrengs en bring hierdie faktor verdere verliese mee.”

Graan SA gaan vra dat die regering die dieselrabat se belastingkomponent van 40% tot 100% verhoog. Die padongelukkefondskomponent staan reeds op 100%, so daar kan niks meer gevra word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

annie ·

TLU SA, ‘n Geseënde Kersfees en Voorspoed vir die Nuwe Jaar… op Mars.

Swerwer ·

Sò Mnr die President, hoe gaan jy hierdie nasie voed? Die Bejaardes kan huidiglik nie oorleef met die geld wat hul ontvang as Oumens Pensioen nie, hoe op aarde nou vorentoe.

Swartskaap ·

Hulle gaan nou plase gryp en self boer. Kom ons kyk hoe ver kom hulle met dit.

VaalDonkie ·

Nou gaan daai tjoppies seker oor die R200/kg gaan draai. Ek lag nou die dag toe ek gaan tjops koop en sien dis R30/kg meer as Ribeye hier by ons. Toe koop ek maar die beesvleis. In my dae het arm mense skaap geeet want steak was te duur.

Swartskaap ·

Alle stadsjapies moet nou maar begin om n paar werfhoenders, varke en n skaap of 2 aan te hou sodat jy jouself en jou gesin kan voed.

Astrain ·

Al wie hoes is die boere en verbruikers…dis die middelmanne wat skatryk word uit die boere en verbruikers! Landbou is seker die enigste vervaardigings bedryf waar die boer nie sy prys kan maak nie maar gesê word wat hy betaal sal word – en ek weet want ek is al in die bedryf vir 40 jaar!!!

Pieter ·

Die anc kommuniste het nie n saak nie mense kan maar dood gaan van die honger. So lank hulle net hulle heffings op die branstof en diesel kry. Ons betaal mos die grands en taxis se geld wat hulle belowe het. Die land het sy gat gesien en klaar sal nooit weer reg kom waar die sleg anc regeer nie.

Frank John ·

Moenie- worry nie. Die ou wat sukkel om ordentlike inkomste te verdien sal uit eindelik vir alles betaal. Alle ander verskonings hoekom pryse op gaan is dat iemand bo-aan die voeldsel kettang wil sy geld hê en heel moontlik meer wil hê. Dan snowball dit al die pad ondertoe. So, wat ek vandag aan salarise vir jou gee wil ek more weer terug hê en dan kla die arbeider hy/sy het meer nodig om sy pryse te kan bekostig, strike, kry meer en alles begin weer oor. What a vicious circle?

Anoniem ·

Sal graag wil sien wat Statistiek SA te sê het oor al die prysstygings en of hulle nog reken die inflasiekoers is 5%.

Francois Le Cochon ·

Die enigste oplossing is om invoerbelasting op kos af te skaf. Dan sal kospryse drasties daal. Goedkoper bees- skaapvleis uit Argentinie, Brasilie en Australie. Goedkoper varkvleis uit Frankryk. Goedkoper kaas uit Ierland en Frankryk. Goedkoper (en soeter) vrugte uit Turkye, Chilie en Israel………..

JM ·

Hongersnood is nou, meer as ooit, SA se voorland. Boere word vermoor en dié wat oorbly veg ‘n vergeefse stryd om staande te bly. Die regering het klaarblyklik nie ‘n saak nie.

Karina ·

Ek dink ek moet maar die blombedding skoonmaak en groente begin plant!

Nico ·

Ja, en die middelman pluk die vrugte. Wanneer die brandstof prys daal bly die voedsel pryse hoog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.