Voëlgriep breek uit op Gautengse plaas

Argieffoto (Foto: giallopudding, Pixabay)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het bevestig dat die hoogs aansteeklike H5N8-voëlgriepvirus op ʼn hoenderplaas in Ekurhuleni in Gauteng uitgebreek het. Altesaam 300 hoenders het reeds weens die virus op dié plaas gevrek. Dié plaas het ook tydens die groot voëlgriepuitbreking in 2017 onder die virus deurgeloop.

Volgens Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, is van die karkasse na ʼn laboratorium gestuur en die virus is wel positief geïdentifiseer. Van die hoenders wat in aanraking met die dooie voëls was, is reeds van kant gemaak.

“Reëlings is getref dat die karkasse dringend na die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Veeartsenykunde op Onderstepoort gestuur word om te bepaal watter soort voëlgriepvirus dit presies is. Ons wag steeds vir die uitslae,” sê Ngcobo.

Die Gautengse veeartseny-owerhede het die plaas onder kwarantyn geplaas en is besig om die uitbreking te ondersoek. Hulle wil onder meer die omvang van die uitbreking bepaal en ook help om die dooie hoenders te verwyder en die plaas behoorlik te ontsmet.

Die departement doen ʼn beroep op hoenderboere in die omgewing om baie versigtig te wees en op die uitkyk te wees vir enige kliniese tekens van die virus. “Indien boere se hoenders enige van die voëlgriepsimptome toon, moet hulle dit by die naaste staatsveearts aanmeld sodat dit ondersoek kan word.”

Die departement is ook in kennis gestel van die vrektes van groot wilde voëls in Maart in Stutterheim in die Oos-Kaap. Die karkasse wat wel vir ontleding gestuur is, het negatief vir voëlgriep getoets. Opvolgondersoeke duur voort.

Die volgende simptome is kenmerkend aan voëlgriep:

  • Depressie;
  • Skielike daling in die produksie van eiers, waarvan baie sag of sonder ʼn dop is;
  • Kamme word rooi en geswel;
  • Die vel onder die oë swel op;
  • Hoes, nies of tekens van angstigheid;
  • Diarree;
  • Bloeding (bloedvlekke) op die been;
  • ʼn Groot aantal vrektes in die bestek van ʼn paar dae, gevolg deur die vinnige verspreiding van die virus en sterftes wat styg tot 100% binne 48 uur.

Die departement raai boere en mense wat voëls besit aan om die volgende veiligheidsmaatreëls in te stel:

  • Hou voëls weg van gebiede waar wilde voëls is.
  • Beheer toegang van mense en toerusting tot pluimveehokke of -kampe.
  • Vermy die voorsiening van water en kos op ʼn manier wat wilde voëls kan lok.
  • Handhaaf behoorlike ontsmetting van die eiendom, pluimveehokke of -kampe en toerusting.
  • Vermy dit om nuwe voëls met ʼn onbekende siektetoestand in die voëlkudde in te bring.
  • Meld siektes en vrektes van voëls by ʼn staats- of privaat veearts aan.
  • Stel prosedures in werking vir die verwydering van mis en dooie voëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Seerot ·

Suid-Afrikaanse wetgewing verbied hoenderboere om die voëls te ent teen voëlgriep.
Ek beskou hulle verweer as swaksinnig.
Ons is hoenderboere in Mosambiek. Sou ek in S.A. wees, was daar geen manier dat ek my voëls nie sou spuit teen voëlgriep nie. Geen hoenderboer kan bekostig dat sy voëls uitvrek nie.
Uit en gedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.