Voëlgriep: Derduisende hoenders van kant gemaak

hoenders

Foto: Klimkin/Pixabay.com

Nagenoeg 260 000 hoenders is sedert die uitbreking van voëlgriep by twee plase in Mpumalanga en een in die Vrystaat van kant gemaak om die verspreiding van dié hoogs aansteeklike H5N8-voëlgriepvirus te voorkom.

Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye het Donderdag gesê hul span veeartse het spoedig reageer en die aangetaste plase onder kwarantyn geplaas. “Die besmette voëls is pynloos van kant gemaak (eutanasie) en die eiers is vernietig,” het Zokwana aan die media in Pretoria gesê.

Volgens hom maak afdeling 19 van die Wet op Dieresiektes voorsiening dat die direkteur van dieregesondheid die wetlike mandaat het om boere te vergoed vir diere wat deur die staat uitgesit word as siektevoorkomingsmaatreël.

Zokwana het bygevoeg kundiges binne die departement glo die verbod op die verkoop van lewende hoenders is die beste manier om die verspreiding van die virus te voorkom. “Om hierdie virus onder beheer te kry, het ons span voorgestel daar word ʼn verbod op die verkoop van lewende hoenders geplaas. Dit het egter ʼn hewige reaksie ontketen omdat talle verkopers se besighede nou beïnvloed word, maar die maatreël is in die beste belang van die land ingestel en ek kan julle belowe die besluit is nie ligtelik geneem nie,” het Zokwana gesê.

Kopers en verkopers van meer as vyf hoenders vir enige ander doeleindes as direkte slagting by ʼn geregistreerde slagplaas sal nou by die onafhanklike Pluimveesiekte-bestuursagentskap (PDMA) moet registreer.

Net geregistreerde kopers en verkopers sal mag handel dryf en dit is die verantwoordelikheid van die kopers en verkopers om self seker te maak die persoon/besigheid waarmee hul besigheid doen, is geregistreer. Boere mag net hoenders verkoop wat as gesond gesertifiseer is deur ʼn veearts of ʼn dieregesondheidspraktisyn.

Handelaars mag nou net gesonde hoenders verkoop en moet rekords hou soos voorgeskryf. Kopers en verkopers wat by die PDMA geregistreer is, moet ʼn onderneming teken wat hulle bind aan streng beheermaatreëls.

“Hierdie voorwaardes geld vir informele verkopers (by vlooimarkte, informele stalletjies of met ‘agterplaas-boerderye’) van lewende hoenders vir gebruik as braaihoenders, lewende lêhenne, jong lêhennetjies en enige hoenders wat moontlik in hierdie kategorieë val. Hierdie voorwaardes geld vir enige kopers en handelaars wat meer as vyf lewende hoenders in bogenoemde kategorieë koop,” het Zokwana gesê.

“Alle aandeelhouers moet aan alle registrasie en ander voorwaardes voldoen. Dit is ontwerp om die handel van lewende hoenders toe te laat sonder om dieregesondheid in die gedrang te plaas. Na gelang van die vlak van samewerking wat bereik word deur dié voorwaardes sal die direkteur van dieregesondheid toekomstige voorwaardes vir ʼn volslae verbod heroorweeg,” het Zokwana gesê.

Die departement het Suid-Afrikaanse boere in Mei gewaarsku oor voëlgriep wat in Zimbabwe uitgebreek het.

Voëlgriep is ʼn virus wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) as hoogs patogenies of laag patogenies geklassifiseer word. Die tipe wat in Suid-Afrika aangetref is, is hoogs patogenies en uiters aansteeklik.

Zokwana het beklemtoon dat die virus nie mense beïnvloed nie. “Dit is deur die WGO bevestig.”

“Die vleis op die rakke is veilig om te eet omdat dit reeds deur ʼn proses van inspeksie gegaan het en veilig is vir menslike inname.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Ek neem aan voëlgriep sal ook wilde voëls affekteer. Hoe word dít beheer?

marous ·

Die vlooimarke , stalletjies agterplaas boerderye , straatbraiers , slag op die sypaadjie mense het klaar aangedui hulle vee hulle af aan die verbod. Hoe gaan daar opgetree word?Gesondheids inspekteurs is skaarser as hoendertande en die wat werk nog skaarser as Dodo henne. Net die gereguleerde bedryf gaan geraak word.

Alwyn ·

Kan nie wees ie hulle sê veearts of dieregesondheidspraktisyn

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.