Voëlgriep: Minister gekap oor bioveiligheid

Die DA eis dat die departement sy maatreëls oor bioveiligheid verskerp. (Foto ter illustrasie: pixabay)

Die DA het die minister van landbou, Thoko Didiza, gekap vir haar departement se hantering van ʼn uitbreking van voëlgriep.

In dié stadium is uitbrekings by vier pluimveeplase in Gauteng en een in Noordwes bevestig, terwyl nog ʼn uitbreking aan die einde van verlede week op ʼn plaas in Worcester in die Wes-Kaap bevestig is.

Noko Masipa, ʼn DA-lid van die parlementêre komitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê terwyl daar geen aanduiding is dat die uitbreking gestuit word nie, moet die minister bioveiligheidsmaatreëls verskerp om die verdere verspreiding daarvan na ander plase te keer.

Masipa sê aanduidings uit Asië en Europa is dat die nuwe virusse veel dodeliker vir pluimvee is en maklik deur wilde voëls versprei word.

“Lande soos Pole het die uitbreking al in Januarie aangemeld en het reeds vyf miljoen voëls verloor,” sê Masipa.

Asië en Europa het tot dusver die H4Nx- Hoë Patogenisiteit-voëlgriep (HPAI), met die genetiese oorsprong H5N1 HPAI wat in 1996 in China geïdentifiseer is, ondervind.

Masipa sê die H5N1-virusuitbreking is reeds wyd aangemeld en dit was net ʼn kwessie van tyd voordat dit ook die Suidelike Halfrond bereik.

“Die DA vra lankal reeds vir verbeterde bioveiligheid om die uitwerking van siektes ná die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo te verminder. Terwyl gevaarligte wêreldwyd geflikker het, het die departement versuim om die nodige waarnemingsmaatreëls te tref om ons kwesbare plase teen dieresiektes te beskerm.”

Masipa sê die minister van finansies, Tito Mboweni, het R495 miljoen vir bioveiligheidsmaatreëls in 2021 toegeken. Hy sê die minister moet nou die nodige maatreëls prioritiseer om te verseker daar is voldoende beskerming vir die pluimveebedryf.

Dit sluit in navorsing oor voëlgriep, asook die monitering van wilde voëls en dieresiektes wat as vroeë waarskuwing kan dien.

“Ons doen ʼn beroep op die minister om te verseker haar departement gebruik sy begroting doeltreffend, doen navorsing, inspekteer plase en vleilande, en gee deurlopende terugvoer aan boere oor moontlike siektes.

“ʼn Verantwoordelike regering sal verseker dat dié maatreëls in werking gestel is en sal nie wag vir ʼn siekteuitbreking nie.”

Masipa sê die DA het Didiza al voor die uitbreking gevra om ʼn raamwerk van dieresiektes in alle provinsies te voorsien, asook hoe dit versprei. Die party wag steeds hiervoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Samuel

Die spreekwoord lui die beste stuurman staan aan wal. Ek wonder hoe sou die DA opgetree het indien hulle in beheer was?

Jack

Onbevoegdheid en versuim is die kwalifikasie vir bevordering in die anc en regering. Dis net die boere en die ekonomie wat pak kry.

SomeOne

” H5N1 HPAI” een van die dae bevat die virusse se name die hele alfabet