Voëlgriep ook op Wes-Kaapse plase geïdentifiseer

Argieffoto (Foto: cocoparisienne, Pixabay)

Die Wes-Kaapse departement van landbou het Dinsdag gesê die aansteeklike voëlgriepvirus is ook by voëls op twee volstruisplase in die Heidelberg-gebied in die provinsie gediagnoseer.

Veeartse van die provinsiale departement van landbou het die H5N8-voëlgriepvirus tydens ʼn roetine-ondersoek waargeneem.

“Albei plase is onmiddellik onder kwarantyn geplaas en geen voëls word toegelaat om vanaf of na die plase vervoer te word nie. Daar is ongeveer 1 000 volstruise op albei plase,” het Bronwynne Jooste, woordvoerder van Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, gesê.

Aangesien die volstruise geen kliniese tekens van die siekte getoon het nie, gaan veeartse voort om toetse in die gebied te doen. Daar is nog geen grootskaalse voëlvrektes in die gebied aangemeld nie.

“In hierdie stadium wil dit voorkom asof die voëlgriep beperk is tot die twee eiendomme. Plase binne ʼn 3 km-radius van die aangetaste plase sal ook onder kwarantyn geplaas word en toetse in die omliggende gebiede duur voort,” het Jooste gesê. Sy het bygevoeg daar is nog geen besluite geneem om voëls van kant te maak nie.

Daar word vermoed dat die virus deur middel van wilde voëls aan die volstruise oorgedra is.

Sedert Junie was daar 13 voorvalle waar voëlgriep in Mpumalanga en Gauteng geïdentifiseer is. Die virus is op sewe kommersiële hoenderplase, by twee groepe agterplaashoenders, drie groepe wilde voëls en een groep huishoudelike ganse waargeneem.

Voëlgriep is ʼn virale respiratoriese siekte in voëls wat vermoedelik deur wilde trekvoëls versprei word. In Suider-Afrika het die H5N8-virus die pluimveebedryf in Zimbabwe ingrypend beïnvloed en duisende kommersiële voëls het gevrek of moes van kant gemaak word.

Volgens die departement van landbou was daar tot dusver nog geen aanduiding dat hierdie virus aan mense oorgedra is nie. “Volstruis- en hoendervleis wat by kleinhandelafsetpunte verkoop word, is veilig vir menslike verbruik,” het Jooste gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.