Voëlgriep op nog twee plase geïdentifiseer

hoenders

Foto: Zdenet/Pixabay.com

Die hoogs aansteeklike H5N8-voëlgriepvirus het op nog twee plase in Gauteng en Mpumalanga uitgebreek.

Die departement van landbou, bosbou en visserye het Dinsdag gesê die virus is op kommersiële lêhoender-plase in die twee provinsies geïdentifiseer. “Die plase is onmiddellik deur ʼn staatsveearts onder kwarantyn geplaas. Dié maatreëls behels onder meer ʼn verbod op die vervoer van hoenders en hoenderprodukte na en van die plaas,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

“Die nodige maatreëls is ingestel om die virus so effektief moontlik te beperk en uit te wis op albei plase. Vooruit-opsporing is gedoen en hoender-depots wat die afgelope 21 dae lewende hoenders van die plase ontvang het, is geïdentifiseer. Die rekords van hierdie depots word nagegaan om soveel as moontlik van hierdie hoenders op te spoor.”

Volgens die departement word die nuwe Poultry Disease Management Agency (PDMA)-stelsel gebruik waarop mense wat lewende hoenders koop en verkoop geregistreer word sodat dit moontlik is om die uitskotprodukte op te spoor. Volgens die departement werk die stelsel goed en is die aanvanklike probleme wat daarmee ondervind is nou uitgestryk.

“Alle belanghebbendes in die pluimveebedryf wat betrokke is by die koop en verkoop van lewende hoenders word ten sterkste aangeraai om te voldoen aan die registrasie- en ander vereistes van die stelsel wat ontwerp is om die handel van lewende hoenders voort te sit sonder om dieregesondheid in gedrag te bring.”

Volgens die departement is die voëlgriepvirus tot dusver op vier plase geïdentifiseer. Die virus het vroeër op twee ander plase in Mpumalanga uitgebreek. Die hoenders op hierdie plase is reeds van kant gemaak. AgriSA het egter in Junie in ʼn verklaring gesê dié siekte is ook op ʼn plaas naby Villiers in die Vrystaat bevestig.

Volgens die departement is die uitvoer van rou vleis, eiers en lewende hoenders van Suid-Afrika na sommige handelsvennote onderbreek omdat een van die vereistes vir hul sertifisering is dat geen voëlgriep landswyd mag voorkom nie. Hierdie sertifisering kon sedert 22 Junie nie uitgereik word nie.

Die departement het gesê die uitvoer van hoenders en hoenderprodukte wat binne virusvrye-kompartemente geregistreer is, gaan steeds voort behalwe wanneer die handelsvennoot ʼn beswaar daarteen het.

“Die H5N8-virus affekteer nie mense nie. Die departement van gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het werkers op die geaffekteerde plase getoets en geen voorvalle van die siekte by mense is waargeneem nie,” het die departement gesê.

Die departement het boere gemaan om so ver moontlik te verhoed dat hul pluimvee kontak met wilde voëls het en dat enige voëls wat op grootskaal vrek by die naaste staatsveearts aangemeld moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LduToit ·

Eagle eye bird Control het ‘n oplossing vir boere. Daar is ‘n afdeling op hul website net vir voëlgriep.

Pieter Jooste ·

dalk die Amerikaners wat voelgriep hier versprei om mark vir hulle hoenders nog weier oop te maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.