Voëlgriep: Taakspan sal oplossings soek

hoenders

Foto: Klimkin/Pixabay.com

Die regering het Dinsdag gesê ʼn taakspan sal op die been gebring word om oplossings te vind vir die huidige uitbreking van voëlgriep wat reeds op verskeie plase en ander eiendomme in die land geïdentifiseer is.

Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, het ingestem om die taakspan, wat sal bestaan uit verteenwoordigers van die pluimveebedryf en die regering, aan te stel om saam te werk aan wetenskapsgebaseerde oorwegings met betrekking tot die inenting van hoenders.

Zokwana het hierdie besluit in ʼn verklaring bevestig ná ʼn geslote vergadering met hoof- uitvoerende beamptes en senior bestuurders in die pluimveebedryf om oplossings te vind en versagtende strategieë te bespreek vir die huidige uitbreking van voëlgriep.

Die departement het kwarantyn- en siektebeheermaatreëls ingestel aangesien die getal voëlgriepgevalle in Suid-Afrika reeds tot 16 gestyg het. Sewe van die voëlgriepgevalle het voorgekom by kommersiële hoenders, drie by groepe wilde voëls, twee op kommersiële volstruisplase, drie by groepe agterplaasphoenders en een geval by voëls wat as ʼn stokperdjie aangehou word.

Zokwana het gesê die huidige uitbreking van voëlgriep bedreig die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf, sowel as werksgeleenthede in dié sektor. Hy het ook gesê dat die bedryf kommer uitgespreek het oor die vergoeding en riglyne wat verband hou met die vergoeding van aangetaste plase, en bygevoeg dat die departement toegewyd is daaraan om riglyne oor vergoeding te verskaf.

Zokwana het gesê die bedryf het ook toestemming versoek om vrugbare eiers in te voer in ʼn poging om die gaping weens voëls wat van kant gemaak word te vul, wat nog ʼn kwelpunt oor die inenting van hoenders teen voëlgriep benadruk.

Die vergadering het saamgestem dat die besluit om pluimvee in te ent op wetenskaplike navorsing gegrond moet word om uiteindelik die langtermynvoordele vir sowel die sektor as die land te verseker. Die departement het hom verder daartoe verbind om teen einde vandeesweek die besluit rakende die invoer van broei-eiers te oorweeg op die vlak wat verlang word om die nasionale bevolking te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Eet ons van die siek hoenders en eiers aangesien mense glo nie die griep opdoen nie? Van die hoenderboere en winkels sal sekerlik nie inkomste wil inboet nie. Hoe word die siek hoenders vernietig. In Sjina het dooie varke tydens die varkgriep-epidemie in die drinkwater beland. Kan die siekte nie met ander gevaarlike plaaslike peste kruis nie wat gevaarliker gevolge kan inhou nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.