Voëlgriep tref skaars SA voël

Kaapse kormorante (Foto: Rodger Bosch, AFP)

Bewaringsgroepe is bekommerd oor Suid-Afrika se bedreigde Kaapse kormorante wat nou ook deur voëlgriep getref is. Die virus het reeds sowat 5% van die wêreld se oorblywende bevolking uitgewis.

Volgens Katta Ludynia, navorsingsbestuurder van die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls, is daar tot dusver meer as 12 000 kormorante wat weens voëlgriep gevrek het. Ludynia meen daar is heel waarskynlik meer vrektes wat nie aangemeld is nie.

Die Kaapse kormorant is ʼn langnekvoël wat langs die kus van Suid-Afrika tot by Angola woon. Daar is slegs 234 000 volwasse voëls oor.

Volgens Ludynia vrek ongeveer 500 voëls daagliks weens voëlgriep. “Nie alle strande word gemonitor nie en sommige karkasse het moontlik in die see uitgespoel,” het Ludynia gesê.

Voëlgriep is nie gevaarlik vir mense nie, maar versprei vinnig deur kormorantkolonies.

Die vrektes sluit baie kuikens in, aangesien dit tans broeiseisoen is.

Kormorante trek reeds swaar onder die dalende visvoorraad, veral dié van sardientjies. Die gebrek aan voedsel het moontlik hul immuniteit verswak, wat tot die hoë getal vrektes bydra.

Ludynia sê vroeg vanjaar het honderde kormorantkuikens gevrek wat bewaringsbewustes meen weens hongerte was.

“Daar is baie hoë kommersiële visvangdruk op sardientjies, maar daar was ook omgewingsdruk wat met klimaatsverandering verband hou.”

Voëlgriep kan nie behandel word nie. Ludynia het gesê die enigste oplossing is om die verspreiding te keer deur karkasse vinnig te verwyder en voëls wat simptome toon, van kant te maak voordat hulle dit verder kan versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dirk Mostert ·

Nog ‘n pandemie. Pfizer & kie vryf seker hul hande. Die cormorante sal ingegrendel moet word. Entpaspoorte!

anniekiewiet ·

Dis hartseer dat hierdie mooi voëls so getref word. Sterkte aan almal wat help om hulle te red.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.