Voëlklip: ‘Dis waar sy gelukkig was’

Jo-Anne Lourens (Foto: Verskaf)

“Voëlklip is nie net bedoel vir die mense wat gelukkig is nie, maar ook vir dié wat seer het. Dit was my ma se happy place.”

Só vertel Jo-Anne Lourens (57) se dogter nadat haar ma se liggaam Dinsdag in die wrak van haar motor by die Voëlklipkrans in Heroldsbaai gevind is. Die wit Chevrolet Aveo het soos menige ander voertuie die afgelope paar jaar by die krans afgestort.

Jessica Hapgood-Strickland vertel haar ma, ’n afgetrede paramedikus van George, het voor haar dood gereeld na dié prentjiemooi uitkykpunt gegaan en oor die see getuur.

Dit is ook hiér waar Hapgood-Strickland haar ma verlede Woensdagaand – die aand voordat sy vermis geraak het – aangetref het. Lourens het toe reeds gedreig om met haar motor by die krans af te ry. Sy is egter later die aand saam met haar dogter na dié se huis toe waar sy oornag het.

Hapgood-Strickland het daardie nag oor haar ma gewaak. Lourens is Donderdagoggend terug na haar eie huis in George en Hapgood-Strickland het by haar huis aan die slaap geraak. Lourens het egter gedurende hierdie tyd haar handsak met onder meer haar selfoon en beursie stilletjies by haar dogter se huis gelos voordat sy daar weggery het.

Hapgood-Strickland het die handsak op ’n tafel aangetref nadat sy wakker geword het.

“Ek het dadelik geweet iets is nie pluis nie.”

Jessica Hapgood-Strickland en haar ma, Jo-Anne Lourens, in Heroldsbaai. (Foto: Verskaf)

Hapgood-Strickland het haar weer na die Voëlklipkrans gehaas, maar niks gesien nie. “Dalk was dit omdat ek nie iets wou sien nie,” erken sy nou.

Dit is nie in dié stadium duidelik wanneer Lourens met haar motor by die krans afgestort het nie en die polisie se ondersoek duur voort.

Lourens is Vrydag as vermis by die polisie aangemeld en ’n soektog is van stapel gestuur.

Die oproep het Dinsdag laatmiddag met die nuus gekom: die wrak van ’n motor met die beskrywing van Lourens se motor is by die Voëlklipkrans gevind.

“Ek het geweet dit is sy. My ma sou nie toelaat dat iemand anders met haar motor ry nie,” vertel Hapgood-Strickland aan Maroela Media.

“As ek aan my ma dink, dink ek aan ’n baie sterk vrou. Jy het nooit vir haar gesê hoe om iets te doen nie. Sy het altyd eerder vir jou gesê hoe dit gedoen moet word,” vertel Hapgood-Strickland effens laggend.

“My ma was hard aan die buitekant, maar sag aan die binnekant.”

Hapgood-Strickland vra nou dat die pad na die berugte Voëlklipkrans nié toegemaak word soos sommige daarop aandring nie.

“Mense moet ophou om Voëlklip te blameer. Dit is só ’n mooi plek … As hulle daardie pad toemaak, het ek geen manier om met my ma te gaan praat nie.”

Maroela Media het vroeër berig tientalle pale met ’n lengte van 1,8 m is verlede jaar by Voëlklipkrans staangemaak om te verhoed dat motors by die krans afstort.

’n Informele parkeerterrein by die krans is nou ook nie meer toeganklik nie nadat dit met klippe toegepak is.

  • Hapgood-Strickland wil graag die gemeenskap van George bedank wat die afgelope week na haar ma help soek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mariaan ·

Wonder net hoekom sy nie dadelik vir die polisie gese het om daar te gaan kyk nie? Dis tragies..die lewe raak net te veel..dis nie vir almal ewe maklik om positief en sterk te bly nie…ek dink meeste mense het maar n stryd…jammer vir julle verlies

Anonymouse ·

Wanneer jy alleen is, jou kinders het hulle eie lewens, en jy staar elke lang dag in die gesig en wonder wat die punt is. RIV Jo-Anne.

Casper ·

Dit is baie hartseer maar niemand gaan my meer oortuig dat dit ongelukke is nie.Dit is mense wat glad nie meer die goue randjie om die wolkie raaksien nie.

Antoinette ·

Sterkte aan die familie. Mag God julle dra in die moeilike tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.