Voëlklip: Ma se liggaam gevind

Soek-en-reddingspanne het Vrydagoggend vroeg weer die soektog by Voëlklip hervat. (Foto: Malcolm Pojie/SA Polisie)

Die soektog na ʼn tweejarige dogtertjie by Voëlklip naby Heroldsbaai duur steeds voort nadat die liggaam van ʼn vrou, vermoedelik haar ma, Donderdagmiddag in die see gekry is.

Die voertuig, met ʼn vrou en die dogtertjie, het Donderdagmiddag by die berugte uitkykpunt in die see afgestort.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê ‘n agtjarige seun kon oënskynlik uit die motor kom voor dit van die krans afgery het.

Die kind het geringe beserings opgedoen, maar was geweldig getraumatiseerd.

(Foto: Malcolm Pojie/SA Polisie)

Pojie het gesê hy is in hierdie stadium in die sorg van sy pa.

Polisieduikers en lede van die Nasionale Seereddingsinstituut het Vrydag vroeg die soektog na die vermiste kind hervat. Soek-en-reddingspanne fokus tans op die omgewing by Voëlklip en Heroldsbaai.

Die polisie hoop om later vandag met die seuntjie te gesels om meer lig te help werp oor die verloop van gebeure. Dit is in dié stadium nie duidelik hoekom die motor in die see beland het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Onnie ·

As die seuntjie tyd gehad het om uit te spring, was dit amper asof hy geweet het wat kom…

modiglianigirl ·

My hart is stukkend vir die arme 8 jarige seuntjie. Wat ‘n afgryslike ervaring!!

Miskruier ·

In die moeilike tye roep na God, slaan n bybel oop en lees.

Harry ·

Nie hier om mense te veroordeel. Hou nie daarvan dat onskuldige kinders betrek word. My hart is stukkend vir hierdie seun.???????

JohanEtz ·

Berig is swak geskryf. Veral 2de paragraaf. Voertuig het in die see gestort met al 3 in die voertuig.
Tog slaag die seuntjie daarin om uit te spring voordat voertuig oor die rand gaan?
Sjoe…. Lees ek verkeerd?

Megan Swart ·

Dagsê JohanEtz
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Bushy ·

Mooi gedaan JohanEtz. Hier kom maroela media toe en maak die berug reg en bedank jou. Wonder net wie is die 3 persone wat jou gedownvote het. Hulle lees sonder om the verstaan en dan baie gou om te oordeel.

skinderbek ·

Hoe is dit net sekere mense wat daar in die see beland ?

Moedeloos ·

Moet asb net nie hierdie seuntjie dwing om te praat nie. Hy is erg inskok en jonk. Gee kans totdat hy self praat.

JM ·

Mense, hou tog op om te bespiegel, dit kan niks aan die voorval verander nie. Bid vir die seuntjie wat baie getraumatiseerd is.

Chantel ·

Ek kan nie verstaan nie, hoe stort ‘n voertuig net daar af. As ek na vorige foto’s kyk van daai pad, dan is die afgrond ‘n ent verder nadat die pad gestop het, mag verkeerd wees. As enige iemand weet hoe dit pad eindlik lyk, sal ek dit waardeer as jy my kan inlig. Dit is net asof die mense doelbewus daar afry.

Die Wolf ·

Dit wil voorkom dat die pad op private grond is. Indien wel, sou ek as eienaar dit met die eerste insidente toegesluit het vir betreding. Wonder of dit tot regsaksies kan lei. Is daar enige aanwysings wat die gebruik daarvan verbied en of op eie risiko gebruik? Sal graag by persone hoor wat daar naby bly of dit wel so is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.