Voëlklip-slagoffers was van Gauteng

Argieffoto van die Voëlklipkrans. (Foto: Malcolm Pojie/SA Polisie)

Die twee bejaarde vroue wat die naweek in hul motor by die berugte Voëlklipkrans naby Heroldsbaai afgestort het, was albei van die Wes-Rand. Hulle was ten tyde van hul dood by ’n plaaslike gastehuis ingeboek.

Sers. Christopher Spies, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die vroue, albei 75 jaar oud, was van Krugersdorp.

Inligting dui daarop dat die vroue Woensdag by ’n gastehuis in Heroldsbaai ingeboek het. Hul motor het drie dae later by die krans afgestort.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het Saterdagaand plaasgevind. Die vroue se liggame is Sondag in die vroeë oggendure uit die motorwrak van ʼn wit Mazda gehaal.

Twee vuurwapens is ook uit die motorwrak gehaal en vir ballistiese toetse gestuur.

Volgens Spies vorm die ballistiese uitslae deel van die polisie se ondersoek. Die polisie in George is in dié stadium in kontak met die vroue se naasbestaandes om hul identiteit na te gaan. Die vroue se identiteit kan dus nie in dié stadium bekend gemaak word nie.

’n Versperring sal binnekort in die lig van die jongste voorval by Voëlklip aangebring word in ’n poging om nóg sterftes by die krans te voorkom.

Argieffoto van die Voëlklipkrans. (Foto: ER24)

Dit is reeds die vyfde geval sedert Oktober 2019 dat ʼn voertuig oor dié krans stort.

Kenneth Field, voorsitter van die Heroldsbaai-belastingbetalersvereniging, sê die voorstel van ’n versperring is deur die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke goedgekeur.

Dít nadat addisionele waarskuwingstekens verlede jaar langs die betrokke padgedeelte aangebring is in reaksie op vorige voorvalle.

Dit blyk egter hoegenaamd nie ’n opsie te wees om die pad permanent te sluit nie.

Jandre Bakker, woordvoerder van die departement, sê die pad is nog nooit onveilig verklaar nie en word veilig geag vir motoriste indien hulle versigtig ry en die padtekens gehoorsaam.

Die betrokke pad is sedert 1958 ʼn geproklameerde provinsiale pad met die departement as padowerheid. Die verklaarde padreserwe word aan albei kante begrens deur private eiendom.

Die pad bied toegang tot gebiede met toerisme- en ontspanningswaarde.

Argieffoto van die Voëlklipkrans. (Foto: Malcolm Pojie/SA Polisie)

Volgens Bakker het die George-munisipaliteit reeds vergaderings belê, wat deur die plaaslike owerheid, provinsiale amptenare van vervoer en openbare werke van die departement se distrikspadingenieurseenheid en die grondeienaar bygewoon is. Verskillende opsies om die veiligheid op die pad te verbeter – alternatiewelik om dit vir die publiek te sluit – is tydens die vergaderings bespreek.

“Die aanwesiges tydens hierdie byeenkomste was teen die sluiting van die pad gekant en is van mening dat die pad toegang bied tot plekke met ontspannings- en toerismewaarde.

Volgens Bakker lê die finale besluit om aansoek te doen vir ʼn padsluiting by die grondeienaar. Sou dié wel besluit om vir sodanige sluiting aansoek te doen, sal die departement die toepaslike prosesse volg om só ʼn versoek te verwerk.

Hy sê die laaste besoek aan die perseel was die afgelope Vrydag –  ʼn dag voor die jongste voorval. Die doel van die besoek was om vas te stel wat nog aan die betrokke pad gedoen kan word om dit te beveilig, sou die grondeienaar besluit om nié aansoek te doen vir ʼn padsluiting nie. Dit kan ook dien as tussentydse maatreëls totdat die pad gesluit is, sou die eienaar wel besluit om voort te gaan met so ʼn versoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sêmanet ·

Mense ry aspris daar af. Kan hulle nie net barriers opsit soos op die hoofweë nie? Daar is nou weer ander mense wat die natuur van daar af wil aanskou.

Surfer ·

Daar is nie n manier wat jy per ongeluk in die parkeer area daar kan af ry nie, behalwe as jy die pedaal soos die petrol trap of die briek heel mis trap of as jy “moeg” is. Nie per ongeluk nie.

Johann ·

Daar is seker niks meer onbevoeg as ‘n politikus en ‘n “departement” nie. Kan aan niks konstruktief dink om ‘n probleem te oorkom nie. “sluit die pad” behoort nie eers op te kom in die gesprek nie. Die reeling kon al ‘n jaar gelede op gewees het.
Tyd dat die regte persone aanspreeklikheid begin betaal.

Francois ·

Jy is verkeerd. Sluit hulle daai pad dan vind die siek mense net n ander krans by n ander plek om selfmoord te pleeg. Wil jy dan dat hulle elke pad langs die see sluit?

pestilensie ·

Uiteraard weet ons pleppe hier bo in die ou Transvaal nie hoe die parkeer area lyk nie , maar ek vind dit moeilik om te glo die mense ry aspris daar af . Gly die later nie maar Net daar af ?

Francois ·

Ek stem. Hou die pad oop. Jy kan nie elke grondpad langs die see sluit vir n paar siek mense. Dit is ook my reg om daar te ry en die mooi natuurskoon te besigtig. As hulle die pad sluit gaan die siek mense net n ander plek soek.

Yvonne ·

Die mense kies om dit te doen…so jammer dat hulle lewe in uitsigloosheid verval het….maar om ander te ontneem van die natuur is onregverdig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.