Voer jou soettand met SA suiker – produsente

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrikaners word aangemoedig om hul suikerpotte met plaaslik geproduseerde suiker vol te maak.

Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging het Maandag aangekondig hy het onlangs ’n vennootskap met Proudly SA aangegaan om verbruikers aan te moedig om meer plaaslik geproduseerde suiker te koop.

Dít nadat die plaaslike suikerbedryf die afgelope tien jaar voor verskeie uitdagings te staan gekom het, waaronder droogtes en verhoogde produksiekoste. Een van die grootste uitdagings was die gevolg van swak handelsbeskerming teen toenemende goedkoop invoere van suiker uit lande soos Brasilië en die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU).

Volgens Rex Talmage, voorsitter van die suikerrietkwekersvereniging, het die goedkoop invoer van suiker die plaaslike bedryf in 2019 net meer as R2,2 miljard gekos.

Die plaaslike bedryf is weens goedkoop suikerinvoere gedwing om binnelandse surplussuiker teen ’n aansienlike verlies na die oorvoorsiene wêreldmark uit te voer, met die inkomste soms laer as die produksiekoste.

Talmage sê hierdie scenario het ’n bestaansrisiko vir die Suid-Afrikaanse suikerrietbedryf geskep, wat ’n bedreiging inhou vir die volhoubaarheid van 21 000 swart kleinskaalse produsente, 65 000 plaaswerkers, 270 000 indirekte werksgeleenthede en die een miljoen broodwinners wat die bedryf ondersteun.

Dit lyk egter of die bedryf nou weer effense groei begin toon.

Home Sweet Home-veldtog

Die vereniging het in Desember ’n veldtog genaamd Home Sweet Home van stapel gestuur. Die veldtog fokus op die opvoeding en aanmoediging van verbruikers om die plaaslike suikerbedryf te ondersteun.

Die vereniging sê nou hy is versigtig optimisties nadat plaaslike suikerrietprodusente se oes verlede jaar altesame 18 miljoen ton oorskry het.

Dít, tesame met Proudly SA se kreatiewe veldtogte om plaaslike aankope in die openbare en private sektor te bevorder en verbruikers bewus te maak oor die ekonomiese uitwerking van die keuse van plaaslike produkte, stem die vereniging opgewonde.

Talmage sê die organisasie sien daarna uit om saam met ProudlySA te werk om die Suid-Afrikaanse suikerbedryf te laat herleef.

Verbruikers word versoek om uit te kyk vir die Proudly SA-handelsmerk wanneer hulle suiker koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Raakvatter ·

Nie net suiker nie, met enige produk. Staan voor die rak en vat die goedkoopste, ongeag watter handelsmerk dit.

Aikie ·

Ek stem saam met Sarel. Alhoewel met al die gedwonge salaris verhogings gaan dit byna onmoontlik wees vir Suid Afrikaanse boere. Wanneer ek in my plaaslike Supermark kom sien ek Huletts suiker en TSB suiker. Hoe lyk die ingevoerde suiker en wie verkoop dit?

Misky ·

Daar is teveel staatsdienswerkers wat vet salarisse kry. Hulle eet nou KFC vir ontbyt ook en nie meer phutu pap soos in die goeie ou dae nie. So suiker verkope sou aansienlik daal

Wakkerslaper ·

Ek het geen probleem om rietsuiker te gebruik nie – sukrose is ‘n natuurlike produk. Waarmee ek wel ‘n hengse probleem het is dat ‘n idiotiese regering die gebruik van natuurlike suiker in voeselprodukte belas, voedselprodusente suiker met kunsmatige versoeters in al wat ‘n produk is vervang en ek nou gedwing word om hierdie kunsmatige versoeters te gebruik…. Of ek nou wil of nie. Ek gaan seker een van die dae gedwing word om vegetariese produkte in die plek van vleis te eet?

JohanCzu ·

Ons gebruik die afgelope 7 jaar stevia, ‘n natuurlike versoeter sonder nadelige gevolge, in plek van suiker. Ons eet ook nie rys, aartappels of enige graan nie. Die resultaat op ons gesondheid is dramaties.

Anoniem ·

Supermarkte met hulle eie handelsmerke is die groot sondebokke van goedkoop ingevoerde produkte. Geen SA kommersiële boer kan produseer en meeding met goedkoop oorsese produkte nie, begin dus by diegene wat dit invoer. Beskerm SA boere op dieselfde manier as wat hulle Sasol se rou materiaal monopolie beskerm deur hoë invoer heffings wat dit dan onmoontlik maak vir enigiemand om met ingevoerde kommoditeite teen plaaslike kommoditeite te kompeteer. Hoekom moet ons tevrede wees met goedkoop ingevoerde gemors, terwyl ons hoë kwaliteit plaaslike produkte kan koop?

Johan ·

Te veel suiker in jou deëet is gif…ingevoer of plaaslik, ek dink hul probleem is dat mense eenvoudig minder suiker eet (drink) ook. Kyk maar hoe die suikerinhoud van koeldrank afgeneem het.

KB ·

Die publiek behoort gekrediteer te word indien hulle plaaslike suiker aankoop – hetsy deur ‘n goedkoper prys of spesiale aanbiedinge.
Maar prysregulering word ook swak toegepas.

Kanjynoumeer ·

Gesondheid vs Suiker.
Bewusmaking van gevare van suiker vir jou gesondheid, veroorsaak dat jy die meeste produkte vermy of min suiker gebruik.

Onnie ·

Arbeid en politiek is te duur in SA, daarom kan produkte vir goedkoper ingevoer word as wat ons dit hier voor kan vervaardig. Moenie net die droogte blameer nie.

Debbie ·

Suiker raak onbekostigbaar. Almal gaan maar vir die goedkoopste

Mariana ·

Mens wil en kan amper nie meer suiker gebruik nie want dit raak nou onbekostigbaar duur.

Hydi ·

Ek koop Brasiliaanse ingevoerde hoender wat nie vol water gedpuit is nie en goedkoper is en suiker ook goedkoper. Jammer, ek het min geld en moet oorleef. Sentiment gaan my nie deurhelp in ‘n maand nie

Carel Aaron ·

Ek stem saam oor die Brazil hoender. Heerlik, smaaklik en lekker verby. VSA se hoender is ook soutwater gespuit nes die plaaslike geslagte hoender van die Rainbow’s ens. Ook die supermark name brands.

Carel Aaron ·

Eienaardig dat boere kla. Ek het in die laeveld opgemerk hoe plantasie avo, mango en litchiebome moes plek maak vir suikerriet.
So wàrom is duisende hektaar bome uitgehaal terwille van suikerriet?

Carel Aaron ·

ñ Groot apteekgroep verkoop gouestroop as heuning ten duurste. Ons heuning byeboere moet met ons kwaliteit onder daai goedkoop stroop se prys kom om ons duursame en arbeidintensiewe rou heuning te kan verkoop.
Rou heuning begin 4 tot 6 weke nadat dit aan suurstof bloot gestel is sandsuiker raak.

JohanCzu ·

Eintlik kan suikerproduksie, nes die geval met dagga is, totaal verban word aangesien dit meer gesondheidsrisikos inhou as dagga. Die boere kan dan eerder kos produseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.