Voer, kos (en braaivleis) vir Brandvlei-boere

Meer as 20 vragmotors met voer- en kosskenkings het Vrydag na Brandvlei vertrek. (Foto: Chris van Beljon)

Meer as 20 vragmotors met kos- en voerskenkings het Vrydag in ’n konvooi uit Vryburg in Noordwes na Brandvlei in die Noord-Kaap vertrek om hulp aan sowat 70 veeboere in dié droogtegeteisterde gebied te lewer.

Die projek is deur die organisasie Boere Droogtehulp SA NPC georganiseer.

Chris van Beljon, bestuurder en stigter van die organisasie, sê sowat vyf vragmotors met skenkings het ook vanuit die Wes-Kaap tot in Brandvlei gery waar hulle by die res van die droogtehulpspan aangesluit het. Die droogtehulp is Saterdag aan boere in die gemeenskap versprei.

“Die droogte is nog lank nie verby nie. Hulp aan boere is nou meer kritiek as ooit,” sê Van Beljon.

“Boere is raadop. Hulle het niks meer oor om te verkoop nie. Dis nou maak of breek.

“As ons boere nou met hulp kan deurtrek, kan ons hulle nog red.”

Die organisasie dryf sedert sy totstandkoming in 2019 verskeie droogtehulpprojekte in boeregemeenskappe, waarvan hierdie een die eerste een op so ’n groot skaal in die Brandvlei-omgewing is.

Van Beljon sê die distrik het die afgelope seisoen – en verskeie vorige seisoene – weinig reën gekry, wat die organisasie genoop het om te help.

“Een van die plase het skaars 1 mm reën gekry, terwyl ’n ander een ses jaar laas reën gehad het.

“Dit reën sulke kolle. Sommige plase is gelukkig om 600 mm reën te kry, terwyl ’n ander plaas net ’n entjie verder nie ’n druppel sien nie.”

Dít, sê Van Beljon, is iets wat mense nie altyd besef nie.

“Daar word soms aanvaar dat as dit op een plek reën, reën dit oral. Maar baie van die omliggende gebiede is kurkdroog.

“As mens nie nou help nie, gaan nog ’n paar honderd plase binnekort leegstaan.”

Volgens Van Beljon verloor Suid-Afrika elke vyf dae ’n plaas.

“Elke vyf dae is nóg ’n plaas leeg – hetsy weens droogte of ander faktore soos plaasaanvalle en ‑moorde. Dit bring ons voedselsekerheid toenemend in die gedrang.”

Droogtehulp is aan sowat 70 veeboere in Brandvlei gelewer. (Foto: Chris van Beljon)

Van Beljon sê die meeste boere in dié streek boer met vee, hoofsaaklik skape, maar ook beeste.

Die organisasie werk onder meer saam met die plaaslike boerevereniging om boere wat ’n behoefte aan hulp het te identifiseer.

“Ons probeer werklik om elke boer wat ʼn behoefte het, te help. Ons het nie ʼn lang lys met vrae wat deur elke boer ingevul moet word nie. As jy boer en daar is behoefte, kom jou naam op die lys.”

Van Beljon verduidelik dat die organisasie op borgskappe en skenkings staatmaak en dat die algehele waarde van dié projek na raming sowat R3 miljoen beloop.

Benewens die skenkings het die organisasie ook Saterdag, na afloop van die verspreiding van die droogtehulp, ʼn lekker opskop met ʼn braai en musiekvertonings vir boere, hul gesinne en werkers gehou.

“Boere leef deesdae so by hulleself. Dis eers wanneer jy weer bymekaar uitkom dat jy besef hoe sleg dit met jou buurman gaan.

“Die geselligheid en samesyn is byna net so belangrik soos die droogtehulp self. Dit is hier waar mense mekaar weer vind, waar hulle mekaar moed inpraat en daar weer hoop geskep word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KB ·

Chris en jou span, ons is reeds geruime tyd bewus van jul onbaatsugtige selfopgelegde taak. Dis mooi en eerbaar. Hou dit net skoon, eerlik en opreg. Julle is ysters.

JohanR ·

Is dit nie wat die ANC wil he nie…..dat boere moet ondergaan? En daar het ons sleg van die NP gedink, maar ‘n boer kon darem boer en nie altyd oor sy skouer moes kyk of iemand sy plaas kom afneem nie.

melW ·

Ek glo dat ons boere hierdeur sal kom met die genade van God. En dis so tragies dat boere paranoia beleef, maar eintlik is dit ń realiteit. Wie kan boer as jy in die ruggeskiet gaan word, enigetyd.

Anel ·

Nê, en hoeveel het die regering bygedra? Dis wst hulle wil hê. Gebreuk die geld wat hierdie land se burgers toekom om pasella vir die kubane te gee. En smee verder planne om alles van ons weg te vat. Nou wonder ek, as daar nou niks meer is om te eet nie gaan die wonderlike kubane bietjie kos skenk?

melW ·

Dis net Afrikaner harte wat so iets sal doen. Dis respek op die uiterste!

SjN ·

Baie dankie aan elkeen betrokke, sterkte ook die boere, ons vertrou Hy sal voorsien.

Noels244 ·

Weereens sal ons self, mekaar help. Trots op julle, baie dankie vir julle onbaatsugtigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.