Voer, medisyne van Ermelo-boere na Loxton

Die boere by ‘n vrag voer (Foto: Verskaf)

Boere van die Ermelo-Oos-boerevereniging het hulle oor die boerderygemeenskap van Loxton ontferm en stuur al vir meer as ʼn jaar veevoer vir dié boere. Op dié manier skep dit hoop onder die Loxton-boere wat al vir ses jaar onder erge droogte gebuk gaan.

Die Ermelo-Oos-boerevereniging, wat uit sowat 40 aktiewe lede bestaan, het in 2019 die projek van stapel gestuur. Die doel met die projek was nie om net voer te stuur nie, maar om boere van die Noord-Kaap emosioneel te ondersteun deur hulle te ontmoet en te bemoedig.

Lion du Plessis, voorsitter van die vereniging, sê hulle het destyds besluit om die geld wat hulle vir hul vereniging se afsluiting sou gebruik het, eerder vir die droogtehulpprojek aan te wend.

“Ons jaarlikse afsluitings is gewoonlik baie deftig,” vertel Du Plessis. “Dit het eendag by my opgekom dat ons boere iets vir droogtehulp moet doen. Ons het toe besluit om nie daardie jaar so ʼn groot afsluitingsgeselligheid te hou nie, maar eerder die geld te gebruik om boere in die Karoo te help.”

Du Plessis sê hoewel hy eerste aan die Karoo gedink het, het hy nie geweet watter gebied hulle gaan help nie.

(Foto: Verskaf(

“Die Karoo is wyd en ons is bewus daarvan dat so baie mense daar swaarkry. Ek het begin rondbel om te hoor waar daar nood is en het toe onthou dat ek en my vrou, Adéle, in 2012 ’n liefdadigheidsprojek in Loxton gedoen het. Ek het die nommer van die plaaslike gastehuis opgespoor en gebel. Ek het die vrou van ons projek vertel sy het aangedui dat die nood baie groot is.”

Du Plessis is na Willie Bruwer, ’n boer in Loxton en die voergroep-koördineerder, verwys.

In daardie stadium was die boere se grootste behoefte veemedisyne. Tien van die Ermelo-boere het in Desember 2019 vyf bakkies vol veevoer ter waarde van R100 000 en veemedisyne van R50 000 gelaai en afgesleep Loxton toe.

“Toe ons daar aankom, het ons nie geweet wat om te verwag nie. Die tannies het in die pad gaan staan en huil toe hulle ons sien. Daardie hele reis was ’n emosionele tranedal.

“Ons het saam met die mense gebid en hulle probeer bemoedig. Die emosionele bystand was vir hulle van onskatbare waarde.”

Du Plessis sê hulle het as nuwe mense van Loxton teruggekeer. “Ons het die dinge wat ons voorheen so as vanselfsprekend aanvaar het, meer waardeer. Ons het ook baie geestelik gegroei.”

Van die Ermelo-boere het in daardie tyd self swaarkry beleef, maar het ten spyte daarvan hulle steeds oor die Loxton-boere ontferm. Du Plessis se oes het in daardie einste maand groot haelskade gehad en ’n ander boer se skape het verkluim.

“Ons het ander uitdagings, maar ons het begrip vir die boere in Loxton s’n ook. Ons twee boeregemeenskappe het net summier geclick en verstaan die uitdagings in landbou.”

Die boerevereniging het sedert Desember 2019 tot vanjaar vyf keer vragte voer, mielies en melassemeel na Loxton gestuur. Hulle het ook dieregesondheidsprodukte soos doseermiddels, vitamien- en mineraalaanvullings gestuur om die swak gehalte voer wat die skape tans kry, aan te vul.

(Foto: Verskaf(

Met die verloop van die projek het ondernemings en mense in Ermelo ook betrokke begin raak.

In Januarie verlede jaar het plaaslike ondernemings skryfbehoeftes vir die kinders in die Karoo gestuur. Die vroue van die Ermelo-boere het ook ’n staansterkprojek van stapel gestuur waardeur hulle die vroue van Loxton bemoedig en ondersteun. Die groep vroue sou in April verlede jaar vir die vroue in Loxton gaan kuier het, maar Covid-19 het hul planne in die wiele gery.

Du Plessis vertel die Loxton-mense is baie trotse mense, en wou nie heeltyd bakhand staan nie. Hulle wou vir die Ermelo-boere iets terugdoen. Hulle het aangebied dat die Ermelo-boere ’n klomp springbokke op hul plase, wat die skape se kos vreet, kan jag. ’n Groep van 14 boere van Ermelo het toe bokke gaan skiet en die vleis weer uitgedeel onder die mense in Ermelo wat deel is van die projek.

Bruwer sê hy was uit die veld geslaan en emosioneel toe Du Plessis hom in 2019 gekontak en hulp aangebied het. Hy sê Loxton word met droogtehulp afgeskeep en het in die afgelope ses jaar van droogte slegs twee keer hulp van die staat ontvang.

“Met daardie eerste ontmoeting van die twee boerderygemeenskappe kon jy dadelik die kameraderie sien vorm. Ons mense het ook besef hulle dra nie alleen aan die swaarkry nie en dat mense aan die ander kant van die land ons nood raaksien,” sê Bruwer.

“Dit is wonderlik hoe hierdie mense ’n stuk van hul eie siel, hul eie mielies en tyd vir ons gegee het. Dat hulle te midde van hul eie swaarkry steeds na ons uitgereik het. Hierdie projek skep beslis hoop.”

Bruwer sê die hulp is broodnodig omdat die boere baie swaar kry weens die droogte. Hulle is ook al verby die punt van moedeloosheid. “Daar is boere wat in ons streek afgetree het, maar toe hul aftreegeld gebruik het om veevoer te koop. Daardie boere is genoop om tot die dag van hul dood te boer.”

Du Plessis sê hulle sal solank as wat hulle kan met die projek wil voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Casper ·

Rampie,dit is wat boer in die ware sin van die woord is , jy help mense in nood want jy boer om dit te kan doen.Jy dink aan die dag van môre en nie soos our people net genoeg plant vir homself nie.

FM ·

Baie jare gelede was ek ook by die Ermelo-Oos boere betrokke. Mense met boere bloed en siel.

Dankie vir die groot stuk geestelike krag wat julle daar deel.

Sê maar net ·

Uiteindelik ‘n storie van hoop en mensliefde in hierdie hartseer tye…God seën en versterk al ons boere xxx

Yvonne ·

Dankie Here dat hierdie mense U Wil uitleef…..ek bid Here dat U elkeen sal seen..net soos U Alleen kan…Amen

Nico ·

Ek salueer die Ermelo-oos boerevereninging vir dit wat hulle deur ander boere in nood by te staan. Mag hierdie boere geseënd wees in dit wat hulle doen, dit is weereens ‘n bewys dat Afrikaner boere kan saam staan.

Dahlia ·

Baie dankie en welgedaan boere van die Ermelo-Oos-boerevereniging vir die ondersteuning, ons is trots op julle!

jzjz05 ·

Boere harte !!! niks kan dit klop nie laat n mens trots voel.

Samuel ·

Bravo vir onse boere!! Julle is staatmakers en verdien net lof. Mag julle bo verwagting geseën word.

Marie ·

Alle deftige byeenkomste wat deur boereunielede se bydraes betaal word moet onmiddellik gestop word. Die tyd vir vioolmusiek is verby, ons moet nou veg vir ons reg en ons moet mekaar bystaan soos bewys deur Ermelo se boere.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.