Voertuie in Sandton glo met petrolbomme gegooi

Twee van die voertuie. Foto: Verskaf

Drie voertuie is Donderdagaand in Sandton in Johannesburg vermoedelik met petrolbomme aan die brand gesteek te midde van voortdurende konflik tussen metertaxi- en Uber-bestuurders.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het Vrydag bevestig die voorval het in Weststraat plaasgevind.

“Toe die polisie op die toneel opdaag, was drie voertuie reeds aan die brand. Voorlopige ondersoek het bevind dat een van die voertuie aan ʼn Uber-bestuurder behoort en een was ʼn metertaxi. Die bestuurders kon uit die voertuie ontsnap en is ongedeerd,” het hy gesê. Die derde voertuig was nie ʼn meter- of ʼn Uber-taxi nie.

Masondo het gesê die situasie is vinnig onder beheer gebring en polisieteenwoordigheid is opgeskerp om die situasie dop te hou.

Samantha Allenberg, Uber se woordvoerder, het bevestig dat een van die voertuie aan ʼn Uber-bestuurder behoort. “Ons is verlig om te hoor dat die bestuurder nie beseer is nie en sal die nodige bystand bied,” het sy gesê. “Enige situasie waarin ʼn bestuurder se veiligheid in gevaar gestel word, is absoluut onaanvaarbaar vir ons. Dat mense gewelddadig optree en bestuurders dreig wat pendelaars ʼn keuse van vervoer bring, is heeltemal onaanvaarbaar.”

Uber word daarvan beskuldig dat hy die metertaxi’s se “besigheid steel”.

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het die gewelddadige optrede streng veroordeel. Maswanganyi het alle operateurs herinner aan ʼn ooreenkoms wat albei partye op 27 Julie by die 10111-hoofkantoor in Midrand bereik het.

By dié vergadering is ooreengestem die Nasionale Landvervoerwet van 2009 is die primêre wetgewing wat voorsiening maak vir die regulering van openbare padvervoer. Die wet vorm die basis om die uitdagings wat die bedryf in die gesig staar, op te los. Tydens die vergadering het alle partye ingestem om die wet te handhaaf en daarvolgens op te tree.

“Mense wat hulle skuldig maak aan geweld en intimidasie, sal vervolg word,” het Maswanganyi gesê.

Hy het gesê wetstoepassingsowerhede sal voortdurend probleemgebiede identifiseer en monitor om ʼn veilige omgewing vir die publiek sowel as openbare vervoeroperateurs te verseker.

Maswanganyi het onderneem om voortdurend betrokke te wees by gesprekke tussen die metertaxi-vereniging en Uber om stabiliteit in die bedryf te bewerkstellig.

Die Sandton-polisie ondersoek ʼn saak van openbare geweld. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.