Voertuig tref jong man op N12 op pad na Springs

Marx se hande is met glas gesny (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Die berig bevat foto’s wat sommige lesers kan ontstel.

ʼn Jong man is beseer toe hy Sondag deur ʼn ander motor raakgery is nadat sy eie voertuig langs die N12 tussen Boksburg en Springs in Gauteng sonder brandstof gaan staan het.

Eben Marx (21) van Brakpan vertel hy, sy meisie en ʼn vriend van hulle was in die vroeë oggendure op pad na die meisie se huis in Springs, nadat hulle die aand in Boksburg deurgebring het. Marx en sy meisie is net voor hulle gery het in Boksburg beroof. Albei se selfone en die meisie se handsak met R500 kontant is gesteel.

“Ons het na ons voertuig toe gehardloop en weggejaag. Ons wou net so ver moontlik van die rowers af wegkom,” vertel Marx.

Op die N12, op pad na Springs, het Marx se voertuig langs die pad gaan staan. Hy en sy vriend het uitgeklim om die voertuig na die naaste verkeerslig te stoot. Die meisie het in die motor bly sit.

“Ek was besig om die voertuig te stoot toe ek agter my ʼn wit Toyota Corolla sien nader kom. Die bestuurder het vreeslik onverskillig gery en die motor het van die een baan na die ander geswaai. In ʼn oogwink was als donker,” vertel Marx.

Die verdagte voertuig het Marx van agter getref en daarna dadelik weggejaag. Marx het in die pad inmekaargesak. Marx se meisie het onmiddellik ʼn ambulans ontbied. “Toe ek my oë weer oopmaak, het ek in die hospitaal gelê.”

Marx het in die pad inmekaargesak (Foto: Verskaf)

Van Marx se voortande is uitgeslaan. Sy hande en gesig is oopgesny met glas van die voertuig se voorruit wat in die trefslag stukkend geslaan is. Hy het verskeie bloukolle op sy lyf.

Nog geen verdere inligting oor die aanvaller in die verdagte voertuig is al bekend gemaak nie.

Terwyl Marx en sy vriend hul voertuig na veiligheid probeer stoot het, het vier polisievoertuie verby hulle gery sonder om hulp aan te bied. Dit het bygedra daartoe dat Marx nie die saak agterna by die polisie aangemeld het nie.

Nuus van die aanval op Marx het intussen soos veldbrand op sosiale media versprei en talle veiligheidsgroepe op Facebook het gebruikers na aanleiding van die voorval gewaarsku om versigtig op dié betrokke pad in die aand te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Santjie ·

Ek wil net graag weet, as hulle beroof is van hulle selfone, hoe het die meisie gebel?

Oe la la ·

Santjie ek het dieselfde gevra… iets is nie lekker hier nie

Mariette ·

Dit se nerens in die berig dat sy gebel het nie dit se “Marx se meisie het onmiddellik ʼn ambulans ontbied”

Talitha ·

Was dit nie slegs Marx en sy meisie wat beroof is nie? Die vriend het seker sy foon by hom gehad?

VanAfrika ·

Bestuurder van ander motor was duidelik so dronk soos n tor. Hoop iemand kan die kar identifiseer.

Emily ·

Wat ek nie verstaan nie is dat Omdat polisie nie gestop het nie Wil die outjie nie n saak maak nie.
Dit maak nie vir my sin nie.
Hy spite homself mos nou en laat die ou wat hom raak gery het wegkom met n misdaad. Dit kon erger gewees het, dan nie.

Leonie ·

Niks nuut dat die polisie deesdae nie meer stop om mense te help nie. Hier en daar kry jy wel die een in die minderheid wat stop om te help. Dink hulle is self bang. Sanral het orals op die N12 en ander hoofweë kameras op, die SAPS kan daai inluigting kry of selfs sy ouers en so behoort hulle dalk die voertuig op te spoor. Shame man hoop hy word gou beter. Sterkte

SwartBees ·

Die (B)oos Rand is nie vir sissies nie.

Ek ruik n rot. (Jammer)

Gawie ·

Twee plus twee in dié storie maak nie vier nie.
Haar selfoon is geroof, maar sy ontbied ‘n ambulans.
Hulle is beroof, én die slagoffers van ‘n tref-en-trap, maar hy wil nie ‘n saak maak nie?
Wat steek hulle weg?

Niné ·

In Amerika is die polisie se slagspreuk “to serve and protect” en hier is dit “help jouself of voertsek”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.