Voertuigeienaar vas oor karwassers se dood

Argieffoto

ʼn 37-jarige man is Woensdag in hegtenis geneem in verband met twee mans se dood nadat hy hom in die teenwoordigheid van sy prokureur aan die polisie oorhandig het.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê sy inhegtenisneming volg ná ʼn voorval 14 Oktober in die Luganda-omgewing in Marianhill, KwaZulu-Natal, waartydens twee mans aangerand en met behulp van petrol gebrand is.

“Die mans is na die hospitaal geneem waar Mxolisi Mkhize (31) met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar is. Die tweede slagoffer, Moses Sele Magama (34), is 16 Oktober dood,” het Gwala gesê.

Gwala verduidelik die beskuldigde het Mkhize en Magama in diens geneem om sy voertuig te was. Hy het hulle toe glo ondervra oor ʼn vermiste ratkas. “Hulle is tydens die ondervraging na bewering aangerand en met behulp van petrol gebrand,” het Gwala gesê.

Die polisie ondersoek twee klagte van moord.

Die man sou vandag in die Pinetown-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zettie ·

“ondervra oor ‘n vermiste ratkas”………hoe op dees aarde raak ‘n ratkas net weg as die voertuig gewas moes word………..?

Cherokee ·

As daar ‘n ratkas langs die kar gelê het en later nie meer daar was nie klink dit soos wegraak.

Christo ·

Die wreedheid van Suid Afrikaners gaan my te behowe. Het sy gedrag die ratkas terug gebring? Geen simpatie, laat die reg sy gang gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.