Voertuigverkope onder politieke druk

Argieffoto

Die afname onder die verkope van nuwe voertuie wat reeds die afgelope aantal maande merkbaar geword het, duur steeds voort met 1 854 minder voertuie wat in Februarie van die hand gesit is. Die totaal van 46 347 is 3,8% minder as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Nogtans het passasiersvoertuie steeds redelik verkoop en was die totaal van 31 200 eenhede slegs 0,4% oftewel 123 eenhede minder as in Februarie 2017.

Die grootste terugslag is ervaar in die ligte handelsvoertuig-sektor waar verkope

1 410 eenhede minder was (13 212) as in 2017. Dit kom neer op markinkrimping van 9,6%.

Daar was verskeie verrassings onder die Toptien-presteerders waar Toyota weer eens baas was met 10 624 verkope – met ʼn reusebydrae deur Hilux wat nou al oudergewoonte die algehele topverkoper was met 3 369 eenhede. Ander Toyota-presteerders was Corolla/Auris/Quest met 1 302 en Fortuner met 1 007 eenhede wat nuwe tuistes gevind het. Die groep se luukse afdeling – Lexus – sal egter werk moet maak van ʼn beskeie 73 wat maar sleg afsteek teen Jaguar se 118 verkoopseenhede.

Soos altyd is Volkswagen (7 519) steeds in ʼn stewige tweede plek danksy ʼn goeie verbetering van nagenoeg 500 eenhede op die Januarie-verkope. Die indruk bestaan dat Volkswagen altyd die topverkoper-passasiersvoertuig sal wees, en hier is die Polo (2 847) geen uitsondering nie. Die nuwe Vivo, wat onlangs opgedollie is, is kort op sy hakke met 2 044 verkope. Die groep se Audi-divisie het self redelik gevaar met 898 verkope – gerugsteun deur die A3 se uitstekende 250 eenhede.

Dis egter nie alles maanskyn en rose vir Volkswagen nie, want Amarok (162) sak al hoe verder terug. Selfs Mahindra Scorpio Pik Up (214) doen beter – om nie eens te praat van GWM Steed (178) nie!

Die derde lid van die Groot Drie, Ford (5 654), het puik presteer met ʼn verbetering van nagenoeg 500 verkope teenoor Januarie vanjaar. Ford se presteerders, oudergewoonte, was Ranger (2 253), EcoSport (814), Figo (7 750) en Fiesta (572). Die gesogte Mustang (59) vaar steeds goed, maar daar is wraggies mense wat steeds ʼn Kuga (94) sal aanskaf.

Stadig maar seker handhaaf Nissan (4 779) sy vierde plek danksy NP200 met 1 690 verkope, en NP300 met 886. Navara, darenteen, sukkel voort met ʼn beskeie totaal van 129 – selfs swakker as Volkswagen se Amarok.

Die vyfde plek behoort aan Hyundai met 3 197 verkope – danksy Grand i10 (1 008), gevolg deur Tucson (450 eenhede), i20 (493) en Creta (443).

Mercedes-Benz, wat nie individuele verkope bekend maak nie, het danksy sy 2 111 verkope van agtste tot sesde plek opgeskuif, terwyl Renault (1 759) die sewende plek beklee omdat Kwid (582), Clio IV (482), en Captur (233) mooi presteer het.

Nuweling Isuzu (1 512) het werklik goed presteer en twee plekke opgeskuif tot in die agtste posisie – hoofsaaklik vanweë sy betroubare KB-modelle. Dis net ʼn kortkop voor KIA (1 508) wat danksy Picanto (686), Rio (438) en Sportage (202) voortdurend presteer.

Die laaste plek onder die Toptien gaan na ʼn ietwat sukkelende BMW (1 361) wat 500 eenhede minder as in Januarie vanjaar verkoop het. BMW het intussen tot inkeer gekom en vermeld nou weer individuele verkope. Hierdeur kan ons sien dat die 3-Reeks (506) weer eens die manne van München se topverkoper is.

Intussen is daar twee Japanse invoerders – Mazda (1 256) en Suzuki (1 179) – wat in die Germaanse nek blaas. Februarie was dan ook die eerste maand dat Suzuki die duisendkerf oorgesteek het.

Ander vervaardigers buite die Toptien sluit in Porsche (91), terwyl ander luukse handelsmerke soos Maserati (12), Ferrari (11) en Bentley op 5 te staan gekom het. Jaguar/Land Rover kan heel tevrede voel met sy 511 verkope waarvan die Jaguar-handelsnaam Toyota se Lexus uitgestof het.

Daar word verwag dat regeringsbesluite soos verhoogde BTW, ʼn woeste brandstofheffing, ʼn hoër ad valorum-heffing op motors duurder as R900 000  en ʼn verhoging in uitlaatgasbelasting die mark kan benadeel – wat egter weer reggeruk kan word danksy ʼn beter groeikoers en verhoogde sakevertroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Eish ·

Verkope onder politieke druk?
Bedoelende die stroom van die Gutarisieërs droog op?

Helena Marx ·

Dikwels vervelige syfers op ‘n uistekende wyse oorgedra. Dankie Bernard!

marisa ·

Maroela julle wiskunde is nie reg as Ford in totaal 5654 verkoop het en daar is meer as 7000 figo’s verkoop dan klop julle syfers nie

zoom zoom ·

Teen die tempo wat die weermag nuwe voertuie koop hoort elke maand ‘n rekord te wees. Elke lid in die weermag het ‘n voertuig waarmee hy kan doen soos hy/sy wil. Dalk moet daar ondersoek gedoen word oor misbruik van weermag voertuie.

Verkoper ·

En ons verkoopsmense trek die swaarste. Ons inkomste het met +- 60% gedaal. Ons mos DRASTIES ons leefwyse verander……… goedkoper verblyf geen DSTV geen huishulp dis hoe ons moes afskaal. Baie van die mense het die motorhandel verlaat vir ‘n stabile inkomste. Dealerships het hulle deure gesluit maw werkers het hulle werk verloor en die wat die toegemaak het nie, het personeel verminder met 50%. In Pta en J’burg het net 1 brand 11 dealers gesluit met gemiddelde personeel van 45 sommige met 60 personeel.

Eish ·

Dit is die hartseer van die saak. Diegene wat deur die kruisvuur getref word.

Pieter ·

Ek is bly om te sien Hillux is weer eerste en Bmw laaste dit is net n status simbool kar met n plaas se prys.

Chekoree ·

Nissan se Navara kompeteer tans net met 4×4 modelle en sukkel nie voort soos deur die Bernard (skrywer) gemeld nie.
As Bernard wil kritiek lewer moet hy dalk gaan kyk hoe die “beskeie totaal van 129” Navaras in die 4×4 mark vergelyk!!
Dit gaan interressant wees om te sien wat die 4×2 modelle toevoeging tot die modelreeks gaan doen aan die Navara verkoopsyfers en dan kan daar regverdige vergelykings getref word.

Skillie ·

Ek stem saam met jou en dan vergelyk hy die Kia Picanto, Rio en Sportage met ‘n Isuzu. Waar in die lewe het jy dit gesien? Ek is self in die motorhandel. dis so goed jy verlyk die Toyota Hi lux met ‘n Datsun Go! Ons wag inspanning vir die Nuwe Isuzu MUX!

Johan Roodt ·

Verbaas my nie. Voertuie het te duur geword en die motor maatskappye stoot elke jaar gerieflik die pryse op en op.

Voertuig pryses gaan persentasie gewys meer op as salarise so die uiteinde is dit wat nou aangaan. Dit gaan nog erger word.

Piet Pompies ·

Die nuwe Polo Vivo se markaandeel vir Feb 2018 was klein omdat die model eers in die 2de week bekend gestel is. Hierdie voertuig gaan ‘n groter hap uit die koek van voertuig verkope vat, nie net by die nuwe Polo maar by ander vervaardigers ook.
Die nuwe Vivo bied die verbruiker heelwat meer as die ander vervaardigers teen ‘n baie goeie prys. Dit is hier waar VW sy mark ken, goeie waarde teen ‘n goeie prys.

Koos ·

Met motors wat amper dieselfde as ‘n meenthuis kos gaan jy minder verkoop. Voertuigpryse raak al meer belaglik en voertuie onbekostigbaar.

Chris Ws ·

As die regering net hul belaglike belasting op nuwe voertuie sou skrap,kan meer mense nuwe voertuie bekostig.Daai belasting beloop 45% van die voertuig se prys.Ek is al ‘n pensioenaris en het net een nuwe voertuig in my lewe besit.Dit was ‘n Renault 5 – die grootste gemors wat ek nog gery het!Hom ingeruil met net 16,000km op.Nooit weer ‘n Renault vir my nie dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.