Voetganger raakgery ná onderonsie by kiespunt

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Voetganger is Woensdag deur ʼn polisiewa getref nadat ʼn onderonsie tussen kiesers en polisiebeamptes by ʼn stemstasie in Malamulele, Limpopo, ontstaan het.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het gebeur nadat ʼn man sy selfoon geantwoord het terwyl hy in die ry gestaan het om te stem by die Xigalo Primary School-stemstasie. ʼn Beampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het hom glo gevra om sy selfoon af te skakel en ʼn rusie het ontstaan.

“Versterking van die naaste polisiestasie is ontbied en twee polisiebeamptes het gereageer. Met hul aankoms was daar ʼn groep mense by die rusie betrokke en die beamptes het probeer om hulle uitmekaar te kry,” het Otto gesê. “Die groep het die polisiebeamptes met klippe bestook en een van hulle aangerand, terwyl iemand die ander beampte se dienspistool gegryp en drie waarskuwingskote afgevuur het.”

Volgens Otto het die persoon daarna met die dienspistool laat spaander en die beampte het hom in die polisiewa agternagesit. Hy het egter beheer oor die voertuig verloor en ʼn vrou wat langs die pad geloop het, omgery voordat die voertuig teen ʼn heining gebots het. “Die vrou is beseer en in ʼn stabiele toestand na die Malamulele-hospitaal geneem,” het Otto gesê.

Die polisiebeampte se dienspistool is later gevind waar die verdagte dit neergegooi het terwyl hy gevlug het. Twee mans en een vrou, tussen 26 en 40 jaar oud, is in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord, aanranding van ʼn polisiebeampte, opsetlike saakbeskadiging en oortreding van die verkiesingswet.

Otto het gesê die situasie is kort daarna in bedwang gebring en stemmery by die kiespunt kon normaalweg voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AG ·

Hi Maroela Media jule dekking met verkiesings uitslae tov resultate is “Uitstekend”

Edward ·

Begin deur ‘n magbehepte verkiesings amptenaar, aangevuur deur barbaarsheid en geëindig deur polisie onbeholpenheid.

snoefie ·

net so Edward. hy het seker n lang tyd tougestaan. waste kwaad kan dit doen in n selfoon te gebruik?

Stephanie ·

Ja nee, snoefie, ek wonder ook. Sover ek weet is dit nie teen die reels om jou cell te gebruik terwyl jy nog in die ry wag nie. Sou reken dis moontlik n ander saak as jy reeds binne die stem lokaal is.
Net baie bly alles het blykbaar, op meeste plekke, goed en sonder drama verloop.

Asjas ·

Nes jy daar se. Ek het spesifiek my selfoon saamgevat met die doel om op hom te speel of praat terwyl ek wag myself besig hou maar gelukkig was dit nie nodig nie. Ons was vroeg daar, gou gestem en die res van die dag rustig gevat.
Binne kan ek verstaan ja, maar terwyl jy staan en wag?? Dit maak nie sin nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.