Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het die ongeluk Maandagaand in Abrahamskraalweg plaasgevind. Paramedici het met hul aankoms op die toneel die man se verminkte liggaam in die middel van die pad aangetref.
“Die man het ongelukkig reeds aan sy beserings beswyk,” het hy gesê. “Al twee motors se bestuurders het gesê hulle het nie die man in die pad gesien toe hy die straat probeer oorsteek het nie.” Die bestuurders is nie beseer nie.