Voetganger sterf op N1

Argieffoto: ER24

Die Johannesburgse metropolisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat die liggaam van ʼn man in sy 30’s Dinsdag onder ʼn voetgangerbrug op die N1-snelweg in Roodepoort gevind is.

Edna Mamonyane, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het gesê die voorval het op die N1-Suid by die Ontdekkersbrug plaasgevind.

“In dié stadium is dit nie presies duidelik of die man dalk van die brug afgespring het, geval het, of die snelweg onveilig probeer oorsteek het nie,” het Mamonyane gesê.

Sy het gesê die metropolisie het aanvanklik op ʼn voetgangerongeluk gereageer en toe hulle op die toneel kom het ʼn motoris gesê sy kon die man sien, wat vermoedelik nog gelewe het en gesukkel het om op te staan. Sy kon betyds uitswaai om hom te vermy, maar ʼn motoris agter haar het die man egter nie gesien nie en hom getref.

Hy is omstreeks 11:00 op die toneel deur paramedici van ER24 dood verklaar. Russel Meiring, woordvoerder van dié nooddienste, het gesê die man het veelvoudige besering opgedoen en daar kon niks vir hom gedoen word nie.

“ʼn Ondersoek is van stapel gestuur en die beeldmateriaal van die kameras op die hoofweg sal nagegaan word om presies te bepaal wat gebeur het. Die dossier sal dan aan die polisie oorhandig word vir verdere ondersoek,” het Mamonyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.