Twee voetgangers is Vrydagaand en Saterdagoggend in twee afsonderlike voorvalle in KwaZulu-Natal doodgery.
Volgens Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, is ʼn persoon Vrydagaand dood nadat ʼn motor hom op die M13 in Gillitts getref het.
“Paramedici het vir 40 minute gespook om die man se lewe te red, maar hy is op die toneel dood,” het Steinmann gesê.
In die ander voorval is ʼn 40-jarige man Saterdag in die vroeë oggendure in ʼn tref-en-trap-ongeluk dood.
“Die ongeluk het in Umgeniweg in Springfieldpark plaasgevind. Die man was reeds dood toe paramedici by die toneel opdaag, en die voertuig wat hom getref het, het van die toneel weggejaag.”
Die polisie ondersoek albei voorvalle.