Voetspoor lei tot rower se ondergang

Argieffoto: Nico Strydom

Puik speurwerk het daartoe gelei dat drie rowers skuldig bevind is skaars drie maande nadat hulle ʼn 90-jarige vrou in ʼn huis in ʼn gewilde kusdorpie in die Oos-Kaap beroof het.

Sers. Majola Nkholi, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die drie beskuldigdes, Given Cuthbert (44), Vuyolwethu Nkqasi (30) en Vuyolwethu Mdayi (32) is Dinsdag in die Hankey-streekhof gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan aanklagte wat verband hou met ʼn rooftog in St. Francisbaai op 16 Julie vanjaar.

“Die drie was gewapen toe hulle toegang tot die huis verkry het waar hulle die bejaarde vrou oorval het,” het Nkholi gesê. “Die mans het met huis- en juweliersware ter waarde van nagenoeg R500 000 op vlug geslaan. Die vrou is nie tydens die rooftog beseer nie,” het Nkholi aan Maroela Media gesê.

Nkholi het gesê die polisie het die misdaadtoneel goed bestuur en waardevolle bewyse is ingesamel. Die verdagtes is ná nadere ondersoek in hegtenis geneem. “Cuthbert het ʼn voetspoor op die toneel gelos, wat hom met opvolgspeurwerk positief met die rooftog verbind het.”

Die polisie het tydens die mans se inhegtenisneming beslag gelê op die gesteelde huisware.

Cuthbert is tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis op aanklag van huisroof. Nkqasi en Mdayi is elkeen tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van huisbraak en diefstal.

Brig. John Lebok, bevelvoerder van die Humansdorp-polisiëringsgebied, het die beamptes geloof wat die misdaadtoneel goed beheer en bewyse doeltreffend ingesamel het.

“Die sukses in hierdie geval word toegeskryf aan beamptes se korrekte en konsekwente nakoming van die goeie ou beginsels van speurwerk. Die werk weerspieël die polisie se verbintenis tot die bestryding van trio-misdade [besigheidsrooftogte, huisrooftogte en kapings] soos omskryf word in ons Back To Basics-benadering,” het Lebok gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Deurmekaar ·

Puik werk deur die SAPD.
Een ding wat ek wel sukkel om te verstaan, is besittings meer werd as iemand se lewe?
Daar is moordenaars wat 5 jaar tronk straf kry en hier kry iemand 20 jaar vir huis braak.

Adri ·

Wonder ek toe ook mos. En baie van daardie “rowers” (plaasmoordenaars) loop nou nog los rond. Ek sukkel inderdaad om baie dinge te verstaan deesdae!

Alida ·

Elke saak het sy eie meriete, Ons was nie in die hof nie dus weet ons nie of die skuldige dalk vorige veroordelings het nie en/of die SAPD hom dalk lankal soek nie. Elke saak word op sy eie hanteer. Al die feite word nie altyd geopenbaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.