Volgende kouefront reeds op pad

Sneeu buite Sutherland (Foto: Elke van Wyk)

Die koue weer wat groot dele van Suid-Afrika in ʼn ysige greep het, sal na verwagting vandeesweek voortduur. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) verwag dat nog twee kouefronte tussen Maandag en Woensdag die land sal tref.

Volgens Kgolofelo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sal die eerste kouefront die suidwestelike dele van die Wes-Kaap Maandagmiddag tref en teen Dinsdag na die Oos-Kaapse kus versprei. ’n Tweede kouefront sal kort op die eerste een se hakke volg en die Wes-Kaap teen Woensdag tref.

Volgens Mahlangu sal temperature van Maandag af in die Wes-Kaap, die westelike gedeeltes van die Oos-Kaap en die suidelike en westelike gedeeltes van die Noord-Kaap daal. Teen Woensdag sal Suid-Afrikaners in die res van die Oos-Kaap, die westelike dele van die Vrystaat en die suidelike dele van KwaZulu-Natal opnuut die komberse en verwarmers moet nader trek.

Temperature sal van Donderdag af ook in Gauteng, Noordwes en die hoëveld van Mpumalanga en KwaZulu-Natal daal.

“Sneeu kan oor die hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap, Noord-Kaap, Wes-Kaap en die suidelike Drakensberge verwag word,” sê Mahlangu.

Volgens Mahlangu sal die koue tot ná die naweek nog voortduur.

Maroela Media het vroeër berig ’n kouefront het verlede week oor die Wes-Kaap inbeweeg en na die binneland versprei. Dit het tot gevolg gehad dat temperature in groot dele van die land beduidend gedaal het. Bloemfontein het Woensdag die laagste minimum temperatuur in die hele land aangeteken, met die kwik wat hier tot -9 °C gedaal het. Sutherland, Vryburg en Fauresmith het ook minimum temperature van -8 °C aangeteken.

Maksimum temperature in die sentrale en suidelike dele van Gauteng het tot tussen 9 °C en 12 °C gedaal.

Gauteng Weather het op Twitter gesê verlede week was tot dusver die koudste week nóg hierdie winter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

isabelle ·

handjies klap …koekies bak…wie gaan van die koue omkap ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.