Volgende onteieningshekkie op pad, waarsku VL

Volgens Vrystaat Landbou is daar reeds heelwat grond wat vir grondhervorming en toepaslike projekte benut kan word. (Foto: Maroela Media)

Vrystaat Landbou (VL) sê teen-onteieningsgroepe moet versigtig wees om nie te gou van dié kwessie te vergeet nie, want die volgende hekkie gaan reeds vroeg volgende jaar oor hul pad kom.

Burgerregte-organisasies en politieke partye het ʼn gesamentlike sug van verligting geslaak toe die ANC vroeër dié week nie sy tweederde-meerderheid kon kry om onteiening sonder vergoeding in die Grondwet in te skryf nie. VL waarsku egter dat die stryd nog lank nie verby is nie.

Saam met die afkondiging van die onteieningswetsontwerp in 2013, om artikel 25 van die Grondwet te wysig, is daar ʼn bykomende voorlegging gemaak om Wet 63 van 1975, wat ook oor onteiening handel, te wysig.

Hierdie wysiging word vroeg volgende jaar in die parlement vir stemming voorgelê en daar word slegs ʼn meerderheid van 50% plus 1 benodig om dit deur te voer.

“Ons volgende uitdaging is om dié wetsontwerp ook stop te sit,” het Francois Wilken, president van VL, vir Maroela Media gesê. “Ons gebruik die woord, stop, maar dit geld spesifiek vir die gedeelte waar onteiening vir grondhervorming omskryf word.

“Ons aanvaar dat daar in sekere gevalle, wanneer die staat byvoorbeeld damme, kraglyne en paaie moet bou, grond in die openbare belang onteien moet word, maar ons verskil oor die gedeelte waar dit vir grondhervorming gedoen moet word, want dit is nie in die openbare belang nie,” sê hy.

“Die standpunt van VL bly dat die huidige wet voldoende voorsiening maak vir grondhervorming, sodra die staat die politieke wil het om dit uit te voer. Dit is wel in die nasionale belang en VL sal sy deel doen om die staat verantwoordbaar te hou in die uitvoering van sy pligte.

“Boonop, in die huidige politieke klimaat, wat deur ʼn bepaalde ideologie gedryf word, saam met regeringskorrupsie, is die definisie van onteiening ter wille van grondhervorming hopeloos te los en te gevaarlik.”

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, het vir Maroela Media gesê dat hulle eerder ander wysigings wil inbring, soos dat die staat vir plaaswerkers, wat hulle dienste op ʼn plaas beëindig, ʼn stuk grond of ʼn HOP-huis in die dorp gee. “Ons is heeltemal gekant teen die staat se alternatief  ̶  om verblyfreg vir werknemers op plase af te dwing binne die riglyne van die huidige ESTA Wetgewing.”

“Ons het in 2013 ʼn grondoudit gedoen en gevind dat die staat reeds heelwat grond vir restitusie-doeleindes en grondhervorming, deur verskillende metodes bekom het. Waar dit van toepassing was, het dit volgens die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper geskied.

“In Oktober verlede jaar het Manketsi Tlhapebe, lid van die nasionale vergadering en wat op die portfoliokomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling dien, bekendgemaak dat daar 896 plase, wat altesaam 700 000 hektaar beslaan, steeds onbenut is, maar dat daar vordering gemaak word met die toekenning daarvan.

“Indien dié wet ingestem word, is ons strategie dan om te wag tot die staat die eerste eiendom ‘onregmatig’ bekom. Dan sal ons regspan dit in die hof gaan betwis en dit teen die Grondwet toets.

“Onteiening is altyd die laaste uitweg as daar nie ooreenstemming gevind kan word nie. Die staat en die eienaar moet eers onderhandel en as hulle nie ooreenkom op ʼn prys nie, kan onteiening deurgevoer word. Ingevolge die bestaande wet word die eienaar dan volgens markwaarde vergoed, of selfs meer, veral as daar ander uitgawes ter sprake kom, maar met die nuwe wysiging lyk dit of dit minder kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Shakespeare ·

Die probleem is dat ons in die kabinet sit met meer korrupte en onbevoegde kaders as die teenoorgestelde. Bakhand bedelende “give me, give me” Afrika. Sal nooit verander nie. Een millijon of twee en die wat nee gestem het stem ja.

Swerwer ·

Wat wil hul met die grond of eiendom doen, hul kan nou nie eens waar hul woonagtig is op pas wat aan hul behoort nie. Sien jy enige groente tuine by diè wat so tekere gaan oor grondoneiening? Is daar enige bewyse dat die plase/grond reg bestuur gaan word, nuttig gebruik gaan word? Kyk maar waar daar reeds grond toegestaan is, die meeste plekke is tot vandag nog nie bewerk nie. Daar is nie kos vir die diere nie, maar diere hou hul aan.

ChrisR ·

Stad Kaapstad onteien al heel wat jare grond. Jy as eienaar kan dit teen staan en dan as jy nie…..dan na 25 jaar vat hulle dit……..dit gaan maar sukkel.

Maria ·

Dit is was nog altyd so dat grond onteien kan word in die land, dit is nie stad Kaapstad nie, dit is die regering. . Hierdie slag wil hulle grondhervorming insluit.

melaney ·

Soos ek voorheen gesê het, hulle gaan geensins met hierdie maligheid ophou nie. Vat gaan hulle vat.

SlinkseKoljander ·

En om te dink as die ANC nou uit bewind gegooi gaan word sal ons al die goed weer moet verander, so onodig as gevolg van dom our people

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.